Nuus 12:00
BULLETIN 15 Februarie 12nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging sê gesondheidsorg moet eers reggeruk word voor NGV sal werk
# Transnet se vraghouerterminaal in Kaapstad bereik ‘n nuwe mylpaal in vrugte-uitvoere
# En, Tennis: Nadal wil aan die Franse Ope en Olimpiese Spele deelneem
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging sê daar is verskeie gesondheidsorgkwessies wat eers reggestel moet word voordat die land gereed sal wees om die Nasionale Gesondheidsversekering in te stel. SAMA se voorsitter, Mvuyisi Mzukwa, sê probleme soos riool wat vryelik deur hospitale vloei, die gebrek aan gespesialiseerde medisyne en stukkende toerusting sal ‘n negatiewe uitwerking op die NGV se instelling hê. Mzukwa sê alhoewel SAMA ʼn universele gesondheidsorgtelsel ondersteun, moet die kwessie van werklose mediese beroepspersoneel ook aandag kry:
# Transnet se Kaapstad-houerterminaal het ʼn nuwe mylpaal bereik deur ʼn rekord een-duisend-726 verkoelde vraghouers vol vrugte op die Santa Rita-vaartuig na Europa te laai. Dit verbeter die vorige rekord van een-duisend-711 houers in 2021. Die waarnemende bestuurder, Oscar Borchards, skryf die sukses toe aan verbeterde operasionele strategieë soos om die verandering van skofte noukeuriger te monitor. Die terminaal het tans drie vaartuie wat vasgemeer is en twee lê voor anker. Die plan is om hierdie week 16-duisend-115 eenhede van 20-voet elk te laai.
# Die Stad Tshwane het afdankingsbriewe aan twee Tshwane-metropolisiebeamptes uitgereik wat skuldig bevind is aan ernstige wangedrag, insluitend afpersing. Nog vyf beamptes het skriftelike waarskuwings ontvang. Tugstappe teen die twee beamptes het onderskeidelik in Februarie en Augustus verlede jaar begin. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, sê Tshwane is verplig om alle kanale te gebruik om te verseker amptenare wat die wet oortree, dra die gevolge:
# Die Keniaanse Natuurlewediens het 21 Oosterse swartrenosters van reservate soos Ol Pejeta, Lewa en die Nairobi Nasionale Park na die Loisaba-reservaat verskuif. Die operasie is deel van die nasionale projek om renosters se gebied uit te brei. ‘n Navorser van die Keniaanse Natuurlewediens, David Ndeere, sê die doel van die projek is om bykomende ruimte vir Kenia se swartrenosterbevolking te skep om te floreer en die hele land te bevoordeel:
# Tennis: Die wêreld se voormalige nommer een, Rafael Nadal, hoop om vanjaar aan die Franse Ope én die Olimpiese Spele deel te neem. Die 37-jarige Spanjaard het 22 Grand Slam-enkelspeltitels gewen wat ʼn rekord van 14 Franse Ope-seges insluit. Hy het in ʼn onderhoud gesê hy weet nie hoeveel geleenthede hy nog het om te speel nie, maar dit sal nie baie wees nie. Nadal het aan volgende week se Katarse Ope onttrek omdat hy nog nie herstel het van ʼn geskeurde spier wat hy verlede maand in Brisbane opgedoen het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-998-dollar-36-sent. Die prys van goud is een-duisend-995-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….