Nuus 07:00
BULLETIN 15 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging is bekommerd dokters kan eenvoudig oppak en die land verlaat
# Pluimveeprodusente sê die ondersoek na onmededingende praktyke moes lankal gebeur het
# En, rugby: Manu Tuilagi is in die Engelse groep opgeneem vir die Sesnasies teen Skotland
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het kommer uitgespreek oor dokters wie se salarisse steeds gelyk aan dié van 2015 is. Die voorsitter, Mvuyisi Mzukwa, het die Departement van Gesondheid gewaarsku hy gaan goeie dokters verloor omdat hulle te min betaal word. Hy sê Suid-Afrikaanse dokters is hoogs opgelei en gesog in ander lande. Mzukwa het gepraat in aanloop tot die vereniging se drie-dae-konferensie wat vandag in Sandton, Johannesburg, begin. Die konferensie sal fokus op kwessies soos werklose dokters, die dekriminalisering van gesondheidsorg en die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering.
# ’n Ekonoom meen Transnet se voortslepende bedryfs-ineenstorting, vererger deur wanbestuur en Covid-19, belemmer Suid-Afrika se uitvoerpotensiaal. Waldo Krugell sê agterstande en opeenhopings by hawens, en die herleiding van vrag na alternatiewe hawens, beroof die land van onskatbare handelsgeleenthede. In weerwil van geringe verbeterings, is Kaapstad se hawe steeds oorvol, wat vrugte-uitvoere beïnvloed. Durban, wat 60-persent van vraghouers hanteer, het handelsdalings beleef, wat daartoe gelei het dat die Internasionale Monetêre Fonds die verwagte groeikoers afwaarts aangepas het. Krugell beklemtoon ook die regering se onwilligheid om bestuurskwessies aan te pak.
# Die Raad op Hoër Onderwys het sy oproep herhaal dat werkgewers met tussenposes die kwalifikasies van hul werknemers moet nagaan. Die raad se uitvoerende hoof, Whitfield Green, het ‘n toename in sake uitgelig wat vals sertifikate, bedrieglike bedrywighede en die wanvoorstelling van kwalifikasies behels. Hy beklemtoon hierdie vals sertifikate word uitgereik deur swendelaars of bedrieërs wat nie werknemers van die gehalteversekeringsraad Umalusi is nie. Green waarsku ook die publiek teen die aankoop van vals sertifikate:
# Die Afrika-Pluimveeprodusente het steun uitgespreek vir die Mededingingskommissie se ondersoek na die pluimveebedryf. Die kommissie het die ondersoek van stapel gestuur om aandag te skenk aan bewerings van onmededingende praktyke. Die ondersoek wil ‘n meer inklusiewe en dinamiese sektor bevorder, met ‘n fokus op klein en mediumgrootte ondernemings en voorheen benadeelde groepe. Die uitvoerende hoof, Kobedi Pilane, is van mening die ondersoek moes lankal gebeur het:
# Oekraïnse gewapende magte beweer hulle het ‘n groot Russiese amfibiese skip, die Caesar Kunikov aan die kus van die Russies-besette Krim gesink. Oekraïne se intelligensie-direktoraat het beeldmateriaal vrygestel van vermoedelik Magura V5-seehommeltuie wat die skip getref het. Oekraïne het die Russiese Swartsee-vloot herhaaldelik in die Krim aangeval. Satellietfoto’s van verlede jaar toon hoe die vloot die skiereiland verlaat en na die Russiese Swartsee-hawe van Novorossiysk vaar. Die Russiese vloot het nie bevestig dat die skip gesink is nie en die Kremlin het geweier om kommentaar oor die voorval te lewer.
# Rugby: Die senter Manu Tuilagi is ingesluit by Engeland se aanvanklike groep van 36 wat gereed maak om Skotland op die 24ste in die Sesnasies op Murrayfield te pak. Die 32-jarige Tuilagi het van ‘n liesbesering herstel en sal na verwagting met Fraser Dingwall meeding vir die binnesenter-posisie. Dingwall het sy toetsdebuut gemaak in die openingsoorwinning teen Italië waarna hy sy plek behou en sy eerste drie vir Engeland gedruk het in die sege oor Wallis. Engeland het die eerste keer in vyf jaar albei hulle Sesnasies-openingswedstryde gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-196-dollar-58-sent. Die prys van goud is een-duisend-993-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….