Nuus 17:00
BULLETIN 14 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gee die DA-geleide koalisie die skuld vir Tshwane se finansiële krisis
# Hamas is op pad na Kaïro vir samesprekings oor ‘n wapenstilstand
# En, die Nasionale Persklub wys sy Nuusmaker van die Jaar vir 2023 aan
# Die ANC sê die Stad Tshwane, onder die DA-geleide koalisie, verkeer in ‘n treurige finansiële verknorsing. Die party spreek diepe kommer uit oor die Nasionale Tesourie se plan om ‘n toekenning vir kapitaalprojekte te kanselleer, met verwysing na die koalisie se onvermoë om fondse wat vir dienslewering geoormerk is, doeltreffend te benut. Die J-S-E oorweeg ook die opskorting van die stad se effekte weens die langdurige onbeskikbaarheid van geouditeerde finansiële state. Die ANC se streeksekretaris, George Matjila, eis die bedanking van burgemeester, Cilliers Brink, en sy koalisievennote:
# Syfers van die Sentrale Energiefonds toon Suid-Afrikaners moet gereedmaak vir ‘n brandstofprysskok volgende maand. Weens hoër internasionale oliepryse sal die prys van 95- en 93-oktaan petrol na verwagting met meer as een-rand-30-sent per liter styg. Die prys van diesel sal na verwagting met tussen een-rand-40- en een-rand-60-sent per liter styg. Dit sal verder bydra tot hoër inflasie en voedselpryse hoog hou. Die verswakkende rand is ‘n verdere slag vir laer brandstofpryse.
# Die voormalige DA-burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, sê hy het die party verlaat weens sy standpunt oor die Israels-Palestynse konflik, en sê die DA onderdruk sommige lede se pro-Palestynse sienings. Hy is die soveelste hoëprofiel-DA-lid om die party te verlaat en het aangekondig hy sluit aan by die People’s Movement for Change, gelei deur die ANC se voormalige Wes-Kaapse voorsitter, Marius Fransman. Plato beskuldig die DA verder van die wegbeweeg van sy verbintenis om die behoeftes van die armes en kwesbares te dien. Die DA het hom bedank vir sy jare-lange diens.
‘n Hamas-afvaardiging is intussen oppad na Kaïro vir samesprekings oor ‘n wapenstilstand, terwyl hawelose inwoners van Gaza hulle voorberei op ‘n moontlike Israelse aanval op hul laaste skuilplek in Rafah. Die vergadering met Egiptiese en Katarse bemiddelaars volg op positiewe samesprekings tussen Israeliese onderhandelaars, die direkteur van die Amerikaanse Sentrale Intelligensie-agentskap, William Burns, en David Barnea van Mossad. Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, sal ook na Kaïro gaan vir samesprekings met president Abdel Fattah al-Sisi. Dringende oproepe is gedoen om ‘n volskaalse grondinval in Rafah te probeer voorkom, te midde van die risiko van grootskaalse ongevalle onder burgerlikes, en ‘n dreigende humanitêre ramp.
# Die Nasionale Persklub het die Springbok-rugbyspan aangewys as sy Nuusmaker van die Jaar vir 2023. Die voorsitter, Antoinette Slabbert, sê die span se uitstekende vertoning in die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk het ‘n media-opskudding ontketen. Daarby het gehalte-leierskap deur die kaptein, Siya Kolisi, daartoe gelei dat die Bokke die Webb Ellis-trofee ‘n rekord-vierde keer verower het. Slabbert sê dit is ook die vierde keer dat die Bokke as Nuusmaker van die Jaar erken word, ná 1995, ’98 en 2007:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-747-dollar-12-sent. Die prys van goud is een-duisend-991-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….