Nuus 16:00
BULLETIN 14 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Brandstofprysskok word verwag in Maart
# Eskom kondig fase-3-beurtkrag aan tot verdere kennisgewing
# En, SALGA sê moorde op politici is ‘n winsgewende besigheid in KwaZulu-Natal
# Syfers van die Sentrale Energiefonds toon Suid-Afrikaners moet gereedmaak vir ‘n brandstofprysskok volgende maand. Weens hoër internasionale oliepryse sal die prys van 95- en 93-oktaan petrol na verwagting met meer as een-rand-30-sent per liter styg. Die prys van diesel sal na verwagting met tussen een-rand-40- en een-rand-60-sent per liter styg. Dit sal verder bydra tot hoër inflasie en voedselpryse hoog hou. Die verswakkende rand is ‘n verdere slag vir laer brandstofpryse.
# Eskom het aangekondig dat fase-3-beurtkrag tot verdere kennisgewing sal voortduur. Fase-4 is afgestel nadat die kragvoorsiener sy noodreserwes suksesvol aangevul het. Volgens Eskom is hy besig om sy opwekkingseenhede geleidelik weer in gebruik te neem. Die kragvoorsiener het die publiek gerusgestel en sê sy kragstasie-bestuurders werk onverpoosd om meer opwekkingseenhede te herstel en die beskikbare vermoë te verbeter.
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering waarsku dat moord op politici ‘n winsgewende onderneming geword het vir huurmoordenaars in KwaZulu-Natal. Die vereniging het die media toegespreek ná die onlangse moord op ‘n raadslid van die Nongoma Plaaslike Munisipaliteit, Ndukwenhle Duma, in uMtubatuba. Die voorsitter, Thami Ntuli, vra onmiddellike optrede teen die situasie, waar politici maklike teikens geword het. Hy waarsku oor die gevaar vir diegene wat korrupsie op plaaslike regeringsvlak blootlê, en sê die toename in politieke moorde is ‘n regstreekse aanslag op die demokratiese stelsel:
# Krieket: Kaptein Ben Stokes gaan die 16de Engelse speler word wat in sy 100ste toets verskyn wanneer hulle Indië van môre af in die derde toets in Rajkot pak. Die 32-jarige veelsydige speler het in Desember 2013 sy buiging in dié formaat gemaak teen Australië en sedertdien ses-duisend-251 lopies aangeteken en 197 paaltjies geneem. Jimmy Anderson is bo-aan die lys van mees ervare Engelse toetsspelers met 184 wedstryde, gevolg deur Stuart Broad met 167, en Alastair Cooke met 161.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-663-dollar-52-sent. Die prys van goud is een-duisend-990-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Tshwane se Nooddienste waarsku inwoners oor die voortslepende hittegolf wat na verwagting hierdie naweek sal voortduur. Die adjunkhoof, Charles Mabaso, beklemtoon die gevare van langdurige blootstelling aan uiterste hitte, insluitend dehidrasie, hitte-uitputting en potensiële sonsteek. Inwoners word versoek om voorsorgmaatreëls te tref en waaksaam te bly, veral ook oor die verhoogde risiko van veldbrande gedurende hierdie tydperk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….