Eko-minuut 13:30
BULLETIN 14 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Universiteit van Kaapstad sê erge weersomstandighede kan verwoesting saai in stedelike omgewings, en die Stad Kaapstad is geen uitsondering nie. Tanya Lane-Visser en Marianne Vanderschuren van die universiteit het ‘n ontleding gedoen, wat aan die lig gebring het die stad se vervoerinfrastruktuur, ter waarde van 20-miljard-rand, loop ‘n groot gevaar van kus-oorstromings en brande. Lane-Visser sê sowat 24-persent van alle strate in die stad val in die gebiede met hoë blootstelling en loop dus die gevaar van skade of vernietiging as gevolg van ongunstige klimaat-uitwerkings.
# Die DA in die Vrystaat sê inwoners in die noordelike stadsgebiede van die Mangaung-metro verduur reeds etlike maande lank dalende waterdruk en verkleurde water. Suiweringsprosesse by die Maselspoort-aanleg sukkel om alle onsuiwerhede doeltreffend te verwyder. Pieter Lotriet van die DA sê om stiptelik aandag aan hierdie kwessies te gee, moet die munisipaliteit hom daartoe verbind om gereelde instandhouding, modernisering en hernuwing by die aanleg in te stel:
# En, laastens: Die Europese Parlement se Landbou-komitee het wysigings aan die Wet op Plantgesondheid goedgekeur, wat maatreëls teen nuwe plant-plae versterk. Die hersienings is in Oktober verlede jaar voorgestel en fokus op voorkoming in die vroeë stadium en onmiddellike uitwissing as dit op die Europese Unie se grondgebied gevind word. Lede stel ‘n EU-plantgesondheid-noodspan voor vir samewerkende plaagvoorkoming. Die wysigings stel ook strenger toesig voor met ‘n opname-tydraamwerk van vyf- tot tien-jaar en verbeterde nasporing met plant-paspoortregulasies. Bywerkings word tydens die voltallige sitting aan die einde van hierdie maand verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….