Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Sokker: Honderde Bafana Bafana-ondersteuners het vanoggend die bronsmedaljewenners op die O-R Tambo Internasionale Lughawe terugverwelkom. Suid-Afrika het die Demokratiese Republiek van Kongo getroef om derde te eindig in die Afrikabekertoernooi wat deur die gasheer, Ivoorkus, verower is. Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en die EFF-leier, Julius Malema, was onder die hooggeplaastes wat die groep op die lughawe verwelkom het. Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê hulle is trots op hul prestasie:
# Krieket: Die Proteas se terugvegpoging vandag op die tweede dag van die tweede toets teen Nieu-Seeland was die Dane Piedt-vertoning. Dié draaibalbouler het vyf paaltjies ingeoes, terwyl Dane Paterson met drie gehelp het om die Swartpette vir 211 lopies uit te boul vir ‘n voorsprong van 31 lopies vir die Suid-Afrikaners. Die Proteas is in hul eerste beurt vir 242 uitgehaal, met Ruan de Swardt wat 64 gemoker het. Piedt sê dit was ‘n goeie dag vir die span:
Nóg Krieketnuus is dat die Protea-vroue môre hul fokus verskuif na hul eenmalige toets teen Australië op die WACA in Perth ná ‘n naelbyt witbal-stryd. Dit sal Suid-Afrika se tweede vierdag-wedstryd wees sedert 2014, en hul eerste toets ooit teen Australië. Die veelsydige Protea-speler Nadine de Klerk sê dit gaan ’n groot uitdaging wees:
# Rugby: Die Springbokke is nie beskikbaar vir die naweek se twee Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde in Suid-Afrika nie, omdat hulle steeds besig is met hulle verpligte rusperiode. Die Haaie pak die Stormers in Durban terwyl die Leeus en die Bulle mekaar die stryd sal aansê in Johannesburg. Die Stormers se afrigter, John Dobson, sê hoewel hy sonder die Bok-staatmakers Manie Libbok, Deon Fourie en Damian Willemse moet klaarkom, sal die span versterk word deur die terugkeer van kaptein Salmaan Moerat, Evan Roos, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Garry Porter.
# En laastens, Motorsport: Charles Leclerc sê hy hoop die nuwe Ferrari sal makliker wees om te bestuur. Die Italiaanse Formule Een-span het hul nuwe motor op hul basis in Maranello onthul. Leclerc, van Monaco, sê dit het ‘n heeltemal ander voorkoms en hy kan nie wag om dit te bestuur nie. Hy sê nadat Ferrari derde geëindig het in verlede jaar se vervaardigerskampioenskap, ná Red Bull en Mercedes, wil hy aanhangers vanjaar baie gee om oor te juig. Vanjaar se stampvol seisoen van 24 wedrenne begin op 2 Maart in Bahrein.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….