Nuus 12:00
BULLETIN 14 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die regering kan eenvoudig nie sy besteding beheer nie
# Waarskuwing dat Suid-Afrika slegs vier maande oor het om dag zero vir nywerheidsgasvoorraad in 2026 te vermy
# En, Krieket: Dane Piedt neem vyf paaltjies op ‘n goeie dag vir die Proteas
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê dis duidelik dat die regering beheer oor sy inkomste verloor het en behoort verplig te word om dissipline toe te pas sodat voldoende vlakke van dienslewering plaasvind. Die Ouditeur-generaal se jongste 2021/22-verslag oor wesenlike ongerymdhede in plaaslike regering het onthul munisipaliteite toon finansiële verliese van 5,19-miljard-rand. Die instituut se woordvoerder, Makone Maja, sê die verliese is weens goedere en dienste waarvoor betaal is, maar nooit gelewer nie, asook onregverdige en onmededingende praktyke:
# Lugvrag by die Dube-vragterminaal by die Koning Shaka Internasionale Lughawe in Durban het in die laaste kwartaal van 2023 met 57-persent gestyg. Die woordvoerder, Ricardo Isaac, sê hierdie toename word deels toegeskryf aan kwessies by die Durbanse hawe. Volgens Isaac was die beduidende toename in lugvrag van September tot Desember 2023 weens die verdubbeling in die volume uitvoere van vrugte na die Midde-Ooste en Europese markte, vergeleke met dieselfde tydperk in 2022. Voertuigvolumes was ook 30 persent hoër as gewoonlik in November.
# Die vereniging vir nywerheidsgasgebruikers in Suider-Afrika waarsku dat Suid-Afrika slegs vier maande oor het om dag zero vir die nywerheidsgasvoorraad in 2026 te vermy. Sasol gaan ophou om onder sy huidige kontrak aardgas uit Mosambiek te voorsien. Dit word deels toegeskryf aan sy plan om die orige gas te gebruik om steenkool by sy bedrywighede te vervang om sodoende minder koolstof vry te stel. Jaco Human van die vereniging sê die regering se mees realistiese voorsieningsopsie is om by die voorgestelde Matola-hawe in Maputo vloeibare aardgas in te voer en weer in gas te verander.
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers met sy Republikeinse meerderheid het gestem om die minister van Binnelandse Veiligheid, Alejandro Mayorkas, aan te kla oor sy hantering van onwettige immigrante wat die land oor die grens met Mexiko instroom. Tweehonderd-en-14 het ten gunste van die twee artikels oor die aanklag gestem en 213 daarteen. Mayorkas is die eerste kabinetsminister in byna 150 jaar wat ‘n ampsklag teen hom kry. President Joe Biden beskryf die aanklag as onbeskaamde en ongrondwetlike partydigheid wat ʼn eerbare staatsamptenaar in kleinlike politieke speletjies teiken.
# Krieket: Die Proteas se terugvegpoging vandag op die tweede dag van die tweede toets teen Nieu-Seeland was die Dane Piedt-vertoning. Dié draaibalbouler het vyf paaltjies ingeoes, terwyl Dane Paterson met drie gehelp het om die Swartpette vir 211 lopies uit te boul vir ‘n voorsprong van 31 lopies vir die Suid-Afrikaners. Die Proteas is in hul eerste beurt vir 242 uitgehaal, met Ruan de Swardt wat 64 gemoker het. Piedt sê dit was ‘n goeie dag vir die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-813-dollar-92-sent. Die prys van goud is een-duisend-987-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….