Nuus 08:00
BULLETIN 14 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Grondwetkenner sê die ANC se kaderontplooiingsbeleid is net die oortjies van die seekoei
# ‘n Ekonoom sê die mynbedryf het steeds groot probleme
# En, ‘n paneel van drie gaan die Universiteit Stellenbosch se Wilgenhof-manskoshuis ondersoek
# Die Konstitusionele Hof se besluit om die ANC se poging om die bevel te verwerp dat hy al die rekords van sy kaderontplooiingskomitee moet oorhandig, is ‘n oorwinning vir deursigtigheid. Dis die mening van die grondwetkenner, Pierre de Vos. Hy sê in ʼn artikel in die Daily Maverick, die ANC se kaderontplooiingsbeleid is net die oortjies van die seekoei. De Vos sê kaderontplooiing het ʼn instrument geword om die ANC se korrupsie te fasiliteer en dit sal waarskynlik voortgaan solank die party aan bewind bly.
# ʼn FNB-ekonoom sê die plaaslike mynbedryf staar steeds uitdagings in die gesig weens laer buitelandse aanvraag, lae kommoditeitspryse en plaaslike infrastruktuur-beperkinge. Myne se produksie het in Desember met 4,2-persent gekrimp nadat dit in November met 2,7-persent opwaarts aangepas is. Die totale mynproduksie was in 2023 0,4-persent laer vergeleke met 2022. Thanda Sithole sê die intensiteit van beurtkrag het wel afgeneem, maar voortslepende swak plekke in hawe- en spoor-infrastruktuur bied steeds uitdagings:
# Die Universiteit Stellenbosch het ʼn paneel van drie lede aangestel om vas te stel of die universiteit se personeel, oudstudente of studente stilgebly het oor onaanvaarbare praktyke wat by die Wilgenhof-manskoshuis plaasgevind het. Sketse wat blykbaar seksuele aanranding uitbeeld, swart hoofbedekkings en ʼn giftige mengsel van lynolie en aalwynkristalle is verlede maand in twee kamers in die manskoshuis gevind. Die paneellede is die universiteit se adjunkregistrateur vir bestuur, Penny van der Bank, advokaat Nick de Jager, en ʼn voormalige registrateur van die Universiteit van die Vrystaat, Derek Swemmer.
# Amerika se president Joe Biden het oudpresident Donald Trump se opmerkings oor die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie as dom, skandelik en on-Amerikaans beskryf. Trump sê hy sal Rusland aanmoedig om enige NAVO-lidland aan te val wat nie sy verdediging-bestedingskwota bereik nie. Biden sê Trump se opmerkings is gevaarlik en geen ander president in Amerika se geskiedenis het nog ooit die knie voor ʼn Russiese diktator gebuig nie:
# Tennis: Die tweede gekeurde en heersende Amerikaanse Ope-kampioen, Coco Gauff, is by die Katar Ope in Doha uitgeskakel. Die Amerikaner is in die tweede ronde deur die Tsjeg, Katerina Siniakova, met 6-2 en 6-4 geklop. Die vierde gekeurde Ons Jabeur van Tunisië het ʼn nederlaag van 6-3 en 6-2 gely teen Lesia Tsurenko van Oekraïne. Die viermalige major-kampioen, Naomi Osaka van Japan, het haar plek onder die laaste 16 bespreek toe sy Petra Martic van Kroasië in skoon stelle geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-540-dollar-47-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….