Nuus 16:00
BULLETIN 13 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# VF Plus-leier beskuldig President Ramaphosa van verkwistende besteding te midde van hongerte-epidemie
# Tennis: Alcaraz sal Olimpiese goud verkies bó die Roland Garros-titel
# En, die aktrise Aletta Bezuidenhout sterf in die ouderdom van 76
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa bestee 24-duisend-rand per persoon vir etes op sy straler, terwyl duisende kinders elke jaar sterf van hongerte. Die party het tydens die staatsrede-debat Ramaphosa se toespraak gekritiseer en die regering se mislukkings met dienslewering en die voortslepende kragkrisis beklemtoon. Party-leier Pieter Groenewald merk die heersende teleurstelling onder Suid-Afrikaners met die huidige regering en vra ‘n hervormende verandering:
Die president van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, het die ANC gestriem vir wat hy noem die party se afwyking van die oorspronklike visie van ‘n mens-gesentreerde samelewing. Hy het ekonomiese uitdagings oor drie dekades, die jongste terugslae en probleme en die kommerwekkende neigings in misdaad en werkloosheid uitgelig tydens die debat op die staatsrede. Hlabisa het die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering ten sterkste afgekeur en hou voor die naderende verkiesing, die IVP voor as ‘n alternatiewe krag vir verandering, met ‘n nalatenskap van sukses:
# ‘n Vier-en-dertig-jarige voormalige onderwyser aan die St Mary’s Diocesan School for Girls in Pretoria is borgtog van tien-duisend-rand in die Pretoriase Landdroshof toegestaan toe hy op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en seksuele voorbereiding verskyn het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Gautengse woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê daar word beweer die onderwyser het tussen 2017 en ’18, ‘n graad 5-leerder tydens swemlesse en ekstra klasse misbruik. Mahanjana sê die saak is tot die 27ste van volgende maand uitgestel vir verdere ondersoek:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, het vanjaar sy visier op Olimpiese goud, eerder as om die Franse Ope te probeer wen. Die Spanjaard het sy twee Grand Slam-titels verower op die Amerikaanse Ope in 2022 en Wimbledon verlede jaar, terwyl hy in 2023 ook die halfeindstryd op Roland Garros gehaal het. Alcaraz sê as hy moet kies, sal ‘n Olimpiese gouemedalje sy eerste keuse wees. Die Franse Ope eindig op 9 Junie in Parys en die Spele se tennis-afdeling begin op 27 Julie op dieselfde stadion in die Franse hoofstad.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-892-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-46-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die aktrise Aletta Bezuidenhout is vroeg vanoggend in die ouderdom van 76 oorlede. Sy was bekend vir rolle in televisiereekse soos Sonkring en die fliek Paljas. Sy het ook in die internasionale rolprent My Country verskyn waar sy die silwerdoek met Samuel L Jackson en Juliette Binoche gedeel het. Bezuidenhout is in Kenia gebore en het drama studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Gérard Rudolf, wat saam met haar gewerk het in Paljas, bestempel Bezuidenhout as een van die land se beste kunstenaars.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….