Nuus 16:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die AA voorspel ‘n aansienlike afname in brandstofpryse in Desember
# OUTA oorweeg die moontlikhede na ‘n terugslag in die hof oor die N3TC finansiële openbaarmakingsaak
# En, padwedlope: ‘n Skotse atleet word vir ‘n jaar geskors omdat sy tydens ‘n marathon in ‘n motor ry
# Die Automobiel-Assosiasie verwag volgende maand ʼn betekenisvolle daling in die prys van brandstof, wat verligting aan verbruikers en vakansiereisigers bied. Vooruitskattings dui op ‘n daling van ongeveer een-rand-ses-sent per liter vir 95-oktaan petrol, een-rand-vyf-sent vir 93-oktaan petrol en twee-rand-10-sent vir diesel. Die prys van lampolie sal na verwagting ook met ongeveer een-rand-75 sent daal. Die AA skryf hierdie verlagings toe aan verlaagde internasionale produkpryse en ‘n sterker rand teenoor die Amerikaanse dollar. Motoriste word ook versoek om te verseker dat hul voertuie in ‘n goeie toestand is wanneer hulle op reis gaan.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy oorweeg sy reg op appèl na ‘n terugslag in die hof oor die finansiële openbaarmaking in die saak oor die tender vir die N3-tolkonsessie. Die Hooggeregshof in Pretoria het OUTA se aansoek om toegang tot sleutel finansiële inligting van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap oor die N3-tolroete tussen Gauteng en KwaZulu-Natal van die hand gewys. Die organisasie is teleurgesteld en beklemtoon die belangrikheid van deursigtigheid. Stefanie Fick van OUTA sê die saak wek groter kommer oor geheimhouding in private maatskappye wat met die staat kontrakte sluit:
Speel klankgreep:
# Die Stad Ekurhuleni doen ʼn beroep op die eienaars van voertuie in die stad se voertuigskut om hulle voertuie te gaan haal, anders gaan dit op ʼn veiling verkoop word. Daar is tans 735 voertuie wat nie opgeëis word nie. Die stad se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê die eienaars is in kennis gestel dat hulle die nodige bewys van eienaarskap moet toon en fooie soos deur die raad vasgestel, moet betaal. Hy sê eienaars kan hulle voertuie tot die agste van volgende maand opeis:
Speel klankgreep:
# Padwedlope: ‘n Skotse langafstand-atleet is vir ‘n jaar geskors nadat sy tydens ‘n wedren in ‘n motor gery en toe aanspraak gemaak het op die derde plek. Joasia Zakrzewski is uitgevang nadat data van die opsporingstelsel van die GB Ultras-marathon van Manchester na Liverpool getoon het sy het vier-kilometer in ‘n motor gery. Die Onafhanklike Tugpaneel van die Verenigde Koninkryk se atletiekliggaam het nie haar verduideliking aanvaar dat sy wel die organiseerders ingelig het sy het die wedloop op ‘n nie-mededingende manier voltooi nie. Die paneel sê sy moes nie die trofee aanvaar het nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-181-dollar-80-sent. Die prys van goud is een-duisend-963-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-57-sent per vat.
# Ten slotte: Die nie-regeringsorganisasie, Brownie Points, het waardering uitgespreek vir die positiewe uitwerking van die Goeie-ekonomie-projek, wat die indiensneming van twee-duisend-505 individue in verskeie sektore aangeteken het. Die organisasie word ondersteun deur die Maatskaplike Indiensnemingsfonds en werk saam met verskeie stigtings om werk en omgewingswaarde te skep. Brownie Points se medestigter, Pascale du Toit-Henke, beklemtoon die projek se rol in die verskaffing van ondersteuning aan gesinne binne gemeenskappe. Vaste werksgeleenthede is veral geskep in mentorskap en afvalinsameling deur die Duzi-uMngeni Conservation Trust-projek in eThekwini, KwaZulu-Natal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….