Sportnuus 12:30
NUUSFLITS SPORTNUUS 16 November 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
NUUSFLITS SPORTNUUS 16 November 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, het die loot gewen en soos verwag is besluit om eerste te kolf in die Wêreldbeker-hafeindstryd teen Australië op Eden Gardens in Kolkata. Suid-Afrika het tot dusver in die toernooi meer sukses behaal deur ʼn teiken te stel as om dit te jaag. Marco Jansen is terug in die span wat twee draaiboulers insluit – Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi. Die wenner vandag speel Sondag in Ahmedabad teen Indië nadat die gashere gister die finalis van 2019, Nieu-Seeland, in die eerste halfeindstryd met 70 lopies geklop het.
# Nou rugby: Die Haaie gaan vir ‘n lang tydperk sonder die voorry-duo Bongi Mbonambi en Vincent Koch moet klaarkom, weens kniebeserings. Mbonambi moes die veld vroeg verlaat in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland verlede maand in Parys, nadat hy ‘n kniebesering opgedoen het. Koch het ook die Wêreldbeker-eindstryd weens ’n kniebesering misgeloop. Die Haaie-afrigter, John Plumtree, sê Mbonambi kan tot ses maande op die kantlyn wees, terwyl Koch tot drie maande lank buite aksie sal wees.
# Vervolgens, motorsport: Die Mercedes-renjaer Lewis Hamilton sê hulle weet nie hoe die motor, wat die hele seisoen onvoorspelbaar was, die naweek sal vaar in die Grand Prix in Las Vegas nie. Die Silver Arrows het twee wedrenne oor om hulle eerste segelose veldtog sedert 2011 te vermy. Hulle grootste taak is egter om hulle tweede plek in die Vervaardigerskampioenskap te verseker waar hulle ʼn voorsprong van 20 punte bo Ferrari het. Hamilton sê hulle het baie werk om te doen om seker te maak hulle het volgende jaar ʼn renmotor wat kampioenskappe kan wen:
Speel klankgreep:
# Ons kom nou by tennis: Die Rus, Daniil Medvedev, het sy plek in die halfeindronde van die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië, bespreek. Die voormalige kampioen het die tweemalige kampioen Alexander Zverev van Duitsland met 7-6 en 6-4 geklop. Die Spanjaard Carlos Alcaraz het intussen sy hoop op die halfeindronde lewend gehou toe hy Andrey Rublev van Rusland met 7-5 en 6-2 verslaan het in sy eerste oorwinning in die seisoen se laaste toernooi. Hy het sy eerste wedstryd in die Rooi Groep teen Zverev verloor. Alcaraz erken elke wedstryd in die toernooi is moeilik:
Speel klankgreep:
# En ten slotte, sokker: Die uitvoerende hoof van Manchester United, Richard Arnold, verlaat die klub aan die einde van die jaar. Arnold is reeds sedert 2007 by die klub en het sy dank uitgespreek dat hy die span kon dien. Hy was aan die hoof van noemenswaardige ekonomiese groei en het in 2022 die uitvoerende hoof geword. Arnold se vertrek kom te midde van ʼn moontlike transaksie vir sir Jim Ratcliffe om ʼn minderheidsaandeel in die klub te bekom, wat vrae laat ontstaan oor ander veranderings in die sportstruktuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….