Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van Astral, Chris Schutte het die ondersoek van die Mededingingskommissie na die pluimveesektor veroordeel. Hy bestempel dit as ‘n aanval op ‘n bedryf wat sukkel met beurtkrag, wisselvallige watervoorsiening, voëlgriep en invoere.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa sê hy kan nie verstaan hoekom fase 6-beurtkrag ‘n verleentheid vir president Cyril Ramaphosa kan wees nie. Hy sê hy verwag beurtkrag sal teen Maart verbeter. Die ANC het intussen gesê hulle is oortuig die kragstelsel word tans gesaboteer.
En tweedens skryf die koerant sowat agt-duisend-500 nuwe eerstejaars is die afgelope naweek op die kampus van die Universiteit van Pretoria verwelkom.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor het na bewering doodsdreigemente ontvang.
En berig die ANC en Jacob Zuma se MK-party is in ‘n regstryd gewikkel oor die embleem wat uMkhonto we Sizwe wil gebruik.
# Sowetan:
Berig die eienaar van die huis in Parkhurst, Johannesburg waar ‘n groep Ethiopiese burgers wat sonder kos aangehou is gered is, sê die woning is deur die huurders vernietig.
# En The Citizen:
Lei met: “ESKOM TRIPS CYRIL UP”. Die koerant skryf ook oor die verleentheid wat fase 6-beurtkrag vir Ramaphosa is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Ramokgopa se reaksie op die kragkrisis.
Foto’s van die ses slagoffers van die Hoërskool Riebeeckstad-busramp word vandag as huldeblyk op die voorblad gepubliseer.
En laastens skryf die koerant meer as 14-jaar nadat Jillian-Joan van der Merwe verlam gelaat is in ‘n motorongeluk wat deur die padoppervlakte veroorsaak is, is die Vrystaatse LUR vir Paaie nou deur ‘n hofbevel gedwing om 17,5-miljoen-rand aan haar te betaal.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens skryf die koerant Sanral het die tolgeld op Suid-Afrikaanse paaie met ingang 1 Maart met 6,25-persent verhoog.
# En Cape Times:
Skryf die bilaterale handelsbetrekkinge met die VSA is in die weegskaal met wetgewing voor die Amerikaanse Kongres wat die betrekkinge wil hersien.
En berig volgens kenners was dit glad nie nodig om fase 6-beurtkrag in te stel nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig sakeondernemings in die Markman-nywerheidsgebied is omgekrap oor die mangaanoperateurs wat munisipale regulasies verontagsaam. Dit lei tot besoedeling en skade aan die infrastruktuur.
En tweedens het die koerant nuus oor The Herald Isuzu Schools Quiz wat môre begin.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die polisie het vier taxi-operateurs wat by moorde betrek is doodgeskiet toe ‘n skietgeveg tydens ‘n polisie-optrede uitgebreek het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n man wat die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente bedrieg het, moet meer as ’n halfmiljoen-rand terugbetaal.
En tweedens skryf die koerant wyle president Hage Geingob word Sondag begrawe en volgende Maandag is ‘n openbare vakansiedag.