Nuus 11:00
BULLETIN 13 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê Ramaphosa se besoek aan Silicon Valley het niks te doen met diplomatieke spanning met Amerika nie
# Microsoft sê sy wêreldwye onderbreking hou nie verband met ‘n kuber-aanval nie
# En rugby: Die statistiek is in die Springbokke se guns in die wedstryd teen Frankryk
# Die Presidensie sê president Cyril Ramaphosa se besoek aan Silicon Valley in Kalifornië volgende week het niks met die land se onenigheid met Amerika te doen nie. Hy sal ‘n hoëvlak-afvaardiging lei om insig te kry in die wêreldwye ekostelsel van kunsmatige intelligensie. Die besoek volg enkele weke nadat Amerika aangekondig het Suid-Afrika word uitgesluit van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa sal nie Washington aandoen nie, maar president Donald Trump sal ingelig word oor sy besoek.
# Die DA sê die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde se voortbestaan is in die gedrang ná ernstige finansiële en bestuursprobleme. Die SABS het in sy 2024/25-jaarverslag aan die Parlement ‘n bedryfsverlies van 70-miljoen-rand en onreëlmatige uitgawes van 52-miljoen-rand aangemeld, terwyl slegs 56-persent van sy prestasieteikens behaal is. Toby Chance van die DA het kommer uitgespreek oor onreëlmatige besteding, swak interne beheermaatreëls en die uitwerking van ‘n losprys-kuberaanval wat die organisasie se IT-stelsels lamgelê het:
# Die polisie in KwaZulu-Natal het ‘n soektog van stapel gestuur nadat ‘n stasiebevelvoerder doodgeskiet en ‘n polisiebeampte gewond is tydens ‘n skietgeveg met vermeende rowers. Die geregsdienaars het reageer op ‘n sakerooftog in Greytown waarin ‘n winkeleienaar gewond en werknemers aangerand is. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê minstens tien aanvallers het in ‘n Toyota Quantum op die vlug geslaan. Hy sê die polisie en privaat veiligheidsbeamptes het die voertuig agternagesit en op die R33 voorgekeer:
Nuus uit die buiteland:
# Microsoft het ‘n kuberaanval uitgeskakel as die oorsaak van ‘n wêreldwye onderbreking wat Outlook, Teams en sy kunsmatige intelligensie-assistent, Copilot, raak. Die tegnologiereus gee die verhoogde las op sy infrastruktuur in verskeie streke die skuld. Die onderbrekings-opsporings-webwerf, Downdetector, berig gebruikers in 74 lande, insluitend Suid-Afrika, Amerika, Brittanje, Australië, Indië en Japan, is geraak. Microsoft het intussen erken sy tegniese pogings om die fout op te los, vorder nie na wense nie.
# Rugby: Die statistiek is in Suid-Afrika se guns in vanaand se Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Frankryk in Parys. Die Springbokke het 61-persent van hulle vorige 47 toetse gewen en die Franse het die wêreldkampioen laas in 2022 geklop. Die wedstryd op die Stade de France skop die kompetisie se vyfde ronde af. Môremiddag speel Italië en Argentinië in Rome en Wallis en die All Blacks in Cardiff. Engeland en Japan ontmoet op Twickenham en Ierland en Fidji in Dublin. Skotland en Australië pak mekaar Sondag in Edinburgh.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-189-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-899-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….