Nuus 09:00
BULLETIN 13 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Hlabisa sê die Wetsontwerp op Munisipale Koalisies is nog nie beskikbaar om met koalisiereëlings te help nie
# Zelensky sê Europese lande moet volhou met sanksies teen Rusland
# En tennis: Pegula haal die halfeind van die WTA-eindtoernooi, maar Gauff is uitgeskakel
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture is nog nie beskikbaar om die wetgewende raamwerk vir koalisie-reëlings in plaaslike regering te verskaf nie. Die Parlement sou die wetgewing, alom bekend as die Wetsontwerp op Munisipale Koalisies, voor die verkiesing aanvaar om by te dra tot orde, beter bestuur en bestendiger koalisies. Dis egter steeds in die Parlement. Hlabisa sê die goedgekeurde riglyne sal ‘n tussentydse raamwerk bied om politieke partye en munisipaliteite by te staan in onderhandelings oor koalisie-ooreenkomste.
# Die Raad van die Linksgesindes doen ‘n beroep vir eenheid onder progressiewe politieke partye in die nadraai van die munisipale verkiesing. Die raad, wat die SAKP, die MK-party, ACT, Africa Mayibuye Movement en die EFF insluit, het die ekonomiese beleid van die regering van nasionale eenheid gekritiseer. Dali Mpofu van MK het tydens ‘n mediabyeenkoms in Boksburg gesê die huidige regering se ekonomiese beleid het die lewe vir gewone Suid-Afrikaners duurder gemaak:
# Die Stad Tshwane het aangekondig waterbeperkings word na vlak twee verskerp weens die toenemende vraag en dalende voorraadvlakke in Rand Water se voorsieningstelsel. Die beperkings geld aanvanklik vir 30 dae, met die moontlikheid van verlenging indien die situasie nie verbeter nie. Die metro se waterverbruik was in September ongeveer 34-persent hoër as sy permanente lisensietoekenning en 19-persent hoër as sy tydelike een. Huishoudings kan dus hoër watertariewe te wagte wees.
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, vra Europese lande om nuwe sanksies teen Rusland in te stel om sy gevegsvermoë te beperk. Die Europese Kommissie berei sy 22ste sanksie-pakket teen Moskou voor. Zelensky het leiers op die Europese Politieke Gemeenskap in Dublin, Ierland, toegespreek en gewaarsku teen die verslapping van ekonomiese beperkings of die opheffing van sanksies as toegewing vir dialoog. Hy sê voortgesette finansiële en handelsdruk is noodsaaklik om Rusland tot ware vredesonderhandelings te dwing:
# Tennis: Die wêreld-nommer-vyf, Jessica Pegula, het deurgedring na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Indian Wells, Amerika. Die Amerikaner het ’n wedstrydpunt afgeweer voor sy die Tsjeg Linda Nosková in drie stelle kon verslaan, en het daarmee haar landgenoot Coco Gauff uitgeskakel. Nosková en Pegula is onderskeidelik eerste en tweede in Groep Een. Pegula speel in die voorlaaste ronde teen die Rus Mirra Andreeva, en Nosková teen die wenner van die laaste rondomtalie-wedstryd tussen Elina Svitolina van Oekraïne en Aryna Sabalenka van Belarus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-837-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-918-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….