Nuus 13:00
BULLETIN 12 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa reik nuwe riglyne uit vir bestendige koalisieregerings in munisipaliteite
# Rugby: Frankryk se gewese Suid-Afrikaanse stut sê Les Bleus gaan môre uiters gemotiveerd wees
# En: Suid-Afrikaners word aangemoedig om diabetes vroeg op te spoor
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het riglyne vir bestendige koalisies in munisipaliteite uitgereik. Dit sal help om koalisies te bestuur, bestendigheid te versterk en seker te maak politieke oorgang belemmer nie dienslewering nie. Gister was die begin van die tydperk van 14 dae vir die samestelling van rade. Die ministerie se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê die riglyne bied ‘n basiese koalisie-ooreenkoms wat politieke partye kan aanpas vir hul onderskeie omstandighede:
# Suid-Afrika se internasionale sakedienstesektor is aangemoedig om te beweeg na spesialis-dienste en vaardighede te ontwikkel om tred te hou met kunsmatige intelligensie. Die uitvoerende hoof van Business Process Enabling South Africa, Reshni Singh, sê K-I ontwrig intreevlakposte en tradisionele oproepsentrum-bedrywighede. Meer as 26-duisend poste is verlede jaar deur die sektor geskep, byna 90-persent vir jongmense, terwyl 7,55-miljard-rand in uitvoerinkomste verdien is. Bedryfsleiers sê die samevoeging van tegnologie en menslike vaardighede sal deurslaggewend wees in toekomstige groei.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Australiese tiener wat Vrydag verdwyn het tydens ‘n kampeer-uitstappie in die Gippsland-streek in Victoria, is ongedeerd gevind. Die 17-jarige, net identifiseer as William, het blykbaar teruggestap na die aflaaipunt om nog kampeer-toerusting te kry. Toe hy nie terugkeer nie, het sy vriend oral gesoek maar kon hom nie opspoor nie. Waarnemende polisie-inspekteur Jason Benbow sê William is aangetref waar hy op ‘n plat rots naby ‘n spruit geslaap het:
# Rugby: ‘n Gewese Franse stut wat deesdae in die Vrystaat boer, sê hulle is die teleurgesteld oor die kwarteind-nederlaag teen die Springbokke in hulle tuis-Wêreldbekertoernooi in 2023. Daniël Kotzé het in 2021 uitgetree nadat hy langer as ‘n dekade in die Europese land gespeel het. Hy sê Frankryk gaan uiters gemotiveerd wees in môreaand se Nasieskampioenskapswedstryd teen Suid-Afrika in Parys. Kotzé sê hulle gaan baie emosioneel wees oor die nederlaag nadat hulle beskou is as ‘n gunsteling om die Wêreldbeker te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-399-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-938-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: November is Diabetes-bewusmakingsmaand en Suid-Afrikaners word aangemoedig om voorkeur te gee aan vroeë opsporing en gereelde sifting. Die Internasionale Diabetes-federasie sê meer as ʼn half-miljard mense wêreldwyd het diabetes, maar byna die helfte is nie bewus daarvan nie. In Suid-Afrika word tot twee-derdes van mense waarskynlik nie gediagnoseer nie. ʼn Diabeet-spesialis, Shaifali Joshi, sê indien die siekte nie gediagnoseer of reg behandel word nie, kan dit are, senuwees en belangrike organe toenemend beskadig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….