Nuus 09:00
BULLETIN 12 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP sal nie koalisiegesprekke met die DA en die VF Plus aanknoop nie
# Vuurwapens het die vernaamste wapen geword wat gebruik word om vroue in Suid-Afrika te vermoor
# En gholf: Die ICONS-bekertoernooi bring sportsterre na Suid-Afrika
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sal nie koalisies vorm met die DA of die Vryheidsfront Plus na die munisipale verkiesing nie. Die SAKP, wat die verkiesing die eerste keer onafhanklik van die drieparty-alliansie gevoer het, het landwyd 2.38-persent steun gekry en 264 raadsetels verower. Die tydperk van 14-dae vir die samestelling van rade het gister begin. Die SAKP sê hy sal hom nie skaar by regsgesinde, neo-liberale partye wat gekant is teen die Vryheidsmanifes, of hulle koalisie-reëlings of agendas nie.
# Vuurwapens is nou die voorste wapen wat in Suid-Afrika gebruik word om vroue te vermoor, insluitend toenemend in massa-skietvoorvalle wat meer algemeen geword het. Gun Free South Africa sê die persentasie vroue wat doodgeskiet word, het tussen 2009 en 2020/21 75-persent toegeneem. Woordvoerder Claire Taylor sê mans wat in die veiligheidsektor werk en vuurwapens dra, is veral betrokke by die moorde. Sy sê die groeiende gebruik van vuurwapens bewys aandag moet gegee word aan vuurwapen-beskikbaarheid as deel van pogings om geslagsgeweld en vrouemoord te verhoed.
# Die owerhede ondersoek ‘n ammoniak-lekkasie by die Festive Chicken-aanleg in Olifantsfontein aan die Gautengse Oos-rand wat 24 werknemers in die hospitaal laat beland het. Die voorval is gister by Ekurhuleni se noodsentrum aangemeld, waarna spanne van die Olifantsfontein-brandweer uitgestuur is. Eric Maloka van Ramp- en Noodbestuursdienste sê brandbestryders het afgekom op talle mense wat sukkel om asem te haal, en het onmiddellike mediese hulp versoek:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, sê ‘n deurbraak is moontlik om vanjaar ʼn ooreenkoms te bereik om die oorlog met Rusland te beëindig. Daar is tydens tweedaagse Amerikaans-geleide onderhandelinge in Abu Dhabi ooreengekom oor die grootskaalse vrylating van krygsgevangenes, maar nie besliste stappe aangekondig om die oorlog van byna vyf jaar te beëindig nie. Zelensky hoop om die oorlog vanjaar te beëindig, maar sê dit sal afhang van die manier waarop Amerika onderhandelings met Moskou benader:
# Gholf: Suid-Afrika gaan van 11 tot 13 Desember die eerste ICONS-bekertoernooi op Fancourt in George aanbied. Tydens die driedaagse geleentheid sal sportsterre hulle onderskeie sportsoorte vir die gholfbaan verruil, met Suid-Afrika wat teen ‘n Wêreldspan te staan sal kom. Die viermalige Meesters-wenner Ernie Els sal die Suid-Afrikaanse span aanvoer, terwyl die Spanjaard José María Olazábal die teenstanders sal lei. SuperSport sal die geleentheid regstreeks uitsaai, met dekking in die oggend op Grandstand en middae op sy gholf-kanaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-38-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-681-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-980-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….