Nuus 08:00
BULLETIN 12 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê regte kry betekenis wanneer geregtigheid vir almal toeganklik is
# Volvo herroep 738 voertuie in Suid-Afrika oor moontlike veiligheidsprobleme
# En tennis: Andreeva klop Sabalenka en bereik die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê toegang tot geregtigheid is nie net ‘n regsbeginsel nie, maar ook ʼn voorvereiste vir menswaardigheid, gelykheid en die oppergesag van die reg. Sy het in Noordwes aan die Internasionale Konferensie oor Toegang tot Geregtigheid gesê sonder betekenisvolle toegang tot geregtigheid, bly regte teoreties en instellings verloor openbare vertroue. Kubayi sê die Internasionale Strafhof verteenwoordig een van die grootste prestasies in die ontwikkeling van internasionale geregtigheid:
# Die EFF sê Suid-Afrika kan nie ‘n openbare uitsaaier hê wat sukkel om sy dienste op die lug te hou nie. Die SAUK het gister ‘n waarskuwing uitgereik oor die ontwrigting van sommige van sy uitsaaidienste. Die uitsaaier gebruik tans kragopwekkers weens ‘n uitgerekte kragonderbreking rondom sy hoofkantoor in Aucklandpark, Johannesburg, sedert Sondagoggend. Die EFF vra ‘n dringende, omvattende inspuiting van openbare befondsing om die SAUK se infrastruktuur op te knap en te moderniseer.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het aangekondig 738 Volvo EX30- en EX30 Cross Country-voertuie wat in Suid-Afrika verkoop is, word herroep weens ʼn moontlike veiligheidsgevaar wat die voorste kopstutte betref. Dit raak sekere modelle van 2024 tot 2027 wat Volvo Suidd-Afrika in die land verkoop het. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê in geval van ʼn ernstige botsing en sekere ander toestande kan die kopstutte insittendes beseer:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump sê dis tyd dat Amerika ʼn totale oorwinning behaal in die oorlog teen Iran. Amerika het soldate na die Midde-Ooste ontplooi in aanloop tot die middeltermynverkiesing, en daar is bespiegel dat Washington gereed maak vir ʼn volle militêre aanslag teen Teheran ná die verkiesing. Die oorlog duur reeds byna nege maande. Trump het gister op ʼn Veterane-dag-geleentheid in Virginia gesê Iran maak reeds sedert 1979 oorlog teen Amerika:
# Tennis: Die 19-jarige Mirra Andreeva het deurgedring na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Indian Wells, Amerika. Die Rus het die wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka van Belarus, in skoon stelle verslaan om die jongste speler ooit te word om die voorlaaste ronde te haal sedert Carolina Wozniacki van Denemarke in 2009. Elina Svitolina van Oekraïne het die Tsjeg Karolina Muchova in drie stelle verslaan en kan steeds die halfeindronde bereik. Sy speel môre teen Sabalenka in die laaste ronomtalie-wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-37-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-654-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-979-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….