Nuus 14:00
BULLETIN 11 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NEHAWU veroordeel openbare ampsdraers se goedgekeurde salarisverhogings
# AZAPO veroordeel die Regering van Nasionale Eenheid oor die stygende werkloosheidsyfer
# En krieket: Labuschagne glo hy kan terugkeer na Australië se toetsspan
# Die vakbond Nehawu veroordeel president Cyril Ramaphosa se goedkeuring van salarisverhogings van tussen 3,5- en vier-persent vir openbare ampsdraers. Dit volg op aanbevelings van die Onafhanklike Kommissie vir die Besoldiging van Openbare Ampsdraers. Woordvoerder Lwazi Nkolonzi sê die besluit is heeltemal beginselloos en ongevoelig weens die moeilike maatskaplik-ekonomiese werklikhede waarmee die meerderheid Suid-Afrikaners te kampe het, veral werkers en die werkersklas:
# ‘n Senior ekonoom van FNB, Handa Sithole, sê produksie in die vervaardigingsektor was die einde van die derde kwartaal steeds swak. Produksie het in September op ‘n jaargrondslag met 3,5-persent gekrimp, ná ‘n afname van 4,1-persent in Augustus. Die jongste syfer is ook swakker as markontleders se voorspelling van ‘n daling van twee-persent. Sithole sê die maandelikse syfers dui tog aan produksie het in die derde kwartaal met sowat een-persent toegeneem, ‘n herstel ná ‘n afname in die vorige kwartaal.
# AZAPO veroordeel die Regering van Nasionale Eenheid nadat werkloosheid gestyg het tot 33,7-persent in die derde kwartaal van 2026. Statistiek Suid-Afrika sê die getal werklose mense het met 97-duisend toegeneem tot 8,6-miljoen, ondanks die skepping van 101-duisend poste. Woordvoerder, Phakamisile Mooi, sê die vakbond beskou werkloosheid as ‘n bewys van die RNE se mislukte ekonomiese reaksie. Hy veroordeel ook die 3,5-persent salarisverhoging vir ministers en parlementslede en die vier-persent verhoging vir regters, landdroste en tradisionele leiers, terwyl miljoene mense steeds sonder werk sit.
# ‘n Amerikaanse baba het oorleef nadat hy 24-uur lank in ‘n hondekrat begrawe was. Die elf-maande-oue Koah Sharpe is volgens berigte by sy ma se huis in Lexington, Suid-Carolina, in sy 25-jarige pa, Michael Corner, se sorg gelaat toe albei verdwyn het. Corner is ure later opgespoor, maar die baba was weg. ‘n Soekgeselskap het afgekom op omgedolwe grond in die woud en Koah hoor huil, en daarin geslaag om hom te red. Hy herstel tans in die hospitaal terwyl sy pa in hegtenis geneem en aangekla is.
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore kolwer Marnus Labuschagne glo steeds hy kan terugkeer na Australië se toetsspan. Die 32-jarige is uitgelaat uit die reeks van vier toetse teen Nieu-Seeland weens swak vertonings. Labuschagne kon slegs 131 lopies aanteken in die onlangse drie toetse teen sy geboorteland, met ‘n hoogste telling van 39. Hy sê hy gaan die onderbreking gebruik as geleentheid om uit die kollig te tree waaronder hy die afgelope twee jaar was:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-823-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-49-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….