Nuus 13:00
BULLETIN 11 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU verwerp die salarisverhoging van 3,5-persent vir politieke ampsdraers
# Slim-ID-dienste is nou beskikbaar in 753 banktakke
# En swem: Smith se regstryd met Swem SA word genoem as rede dat sy na Nederland uitwyk
# Die vakbondfederasie SAFTU verwerp president Cyril Ramaphosa se besluit om ‘n salarisverhoging van 3,5-persent vir politieke ampsdraers goed te keur, insluitend vir lede van die nasionale uitvoerende gesag en parlementslede. SAFTU steun ‘n verhoging van vier-persent vir regters, want die onafhanklikheid en behoorlike werking van die regbank is noodsaaklik vir ‘n grondwetlike demokrasie. Woordvoerder Asive Dyani sê salarisverhogings vir politieke ampsdraers kan egter nie regverdig word terwyl miljoene mense sukkel om werk te kry nie:
# Die Departement van Binnelandse Sake het slim ID-dienste uitgebrei na 753 banktakke en daarmee sy teiken van 750 oortref. Minister Leon Schreiber sê meer as ‘n miljoen Suid-Afrikaners het van die diens gebruik gemaak sedert die bekendstelling in Maart. Die voetspoor het uitgebrei van 214 kantore van Binnelandse Sake na 967 punte, ‘n toename van meer as 350-persent binne 246 dae. Schreiber sê mense kan by ABSA-, Capitec-, FNB- of Standard Bank-takke instap, waar aansoeke binne vyf minute verwerk word, sonder ‘n bespreking of toue.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste gaan verseker die departement voldoen aan hofbevele rondom die saak van voormalige werknemers van G4S-sekerheidsdienste in die Mangaung-korrektiewe sentrum, nou bekend as Grootvlei, in die Vrystaat. Die Arbeidshof het die departement skuldig bevind aan minagting omdat personeel van G4S nie gekontrakteer is nadat die departement in Julie die tronk se bedryf oorgeneem het nie. Voorsitter Anthea Ramolobeng sê die department is verlof tot appèl geweier:
# Swem: Die besluit van Suid-Afrika se beste Olimpiese atleet, Tatjana Smith, om voortaan vir Nederland deel te neem, word deels toegeskryf aan haar regstryd met Swem Suid-Afrika oor onbetaalde prysgeld en swak voorsiening aan atlete. Die 29-jarige swemmer het dubbele burgerskap deur haar pa, Rene Schoenmaker. Sy hoop om vir Nederland deel te neem aan 2028 se Olimpiese Spele in Amerika. Smith sê die Europese land het sterker, meer volhoubare hoëprestasie-strukture, en erken finansiële uitdagings in Suid-Afrika:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-625-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-49-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse akteur wat die privaat speurder Mike Hammer in die TV-reeks van die 1980’s uitgebeeld het, is op 85 oorlede. Stacy Keach se loopbaan het oor ses dekades gestrek en het ook Shakespeare-rolle en vertolkings in produksies soos Hemingway, Prison Break en The Bourne Legacy ingesluit. Sy laaste verskyning was verlede jaar in Netflix se produksie, Jay Kelly. Keach se vrou, Malgosia Tomassi, sê hy is in hulle huis in Madgalenka, Pole, aan hartversaking dood. Hy word ook oorleef deur twee kinders.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….