Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore kolwer Marnus Labuschagne glo steeds hy kan terugkeer na Australië se toetsspan. Die 32-jarige is uitgelaat uit die reeks van vier toetse teen Nieu-Seeland weens swak vertonings. Labuschagne kon slegs 131 lopies aanteken in die onlangse drie toetse teen sy geboorteland, met ‘n hoogste telling van 39. Hy sê hy gaan die onderbreking gebruik as geleentheid om uit die kalklig van die afgelope twee jaar te tree:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, het ‘n sterk groep van 23 gekies vir die Wêreldbeker-kwalifiseerders in Marokko. Die middelveldspeler Sibulele Holweni, wat in Denemarke speel, is die eerste keer betrek sedert sy verlede maand na Europa verhuis het. Kaptein Refiloe Jane sal die eerste wedstryd teen Chinese Taipei misloop weens ‘n skorsing. Suid-Afrika is een van ses lande wat later die maand deelneem aan die voorlopige ronde. Ellis sê die spankeuse was moeilik:
# Swem: Die besluit van Suid-Afrika se beste Olimpiese atleet, Tatjana Smith, om voortaan vir Nederland deel te neem, word deels toegeskryf aan haar regstryd met Swem Suid-Afrika oor onbetaalde prysgeld en swak voorsiening aan atlete. Die 29-jarige swemmer het dubbele burgerskap deur haar pa, Rene Schoenmaker. Sy hoop om vir Nederland deel te neem aan 2028 se Olimpiese Spele in Amerika. Smith sê die Europese land het sterker, meer volhoubare hoëprestasie-strukture, en erken finansiële uitdagings in Suid-Afrika:
# Rugby: Die Blitsbokke het nog beseringsprobleme voor die nuwe seisoen. Die spelskepper Shilton van Wyk en kaptein Impi Visser is nou ook op die krukkelys nadat die voorspelers, Zander Reynders en Jayden Nel, vroeër beseer is. Afrigter Philip Snyman sê Visser kan dalk reg wees vir die eerste toernooi in Dubai later die maand. Hy beplan om diepte te bou in die eerste ses toernooie en in die laaste drie Olimpiese kwalifisering te bekom:
En laastens, nog rugbynuus is, Boland se afrigter, Hawies Fourie, sê dit sal ongelooflik wees as die Springbok-veterane Pieter-Steph du Toit en Damian de Allende by die unie aansluit. Onderhandelings is volgens berigte aan die gang om hulle dienste te bekom na volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Du Toit het onlangs sy vertrek uit Japan aangekondig en De Allende beplan om die Asiatiese land volgende jaar te verlaat. Fourie sê albei woon naby Wellington en het aangedui dat hulle die dorp hulle basis wil maak om naby hulle gesinne te wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….