Nuus 12:00
BULLETIN 10 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU verwelkom die hervatting van Madlanga-verhore wat sleutelgetuies gaan inroep
# Binnelandse Sake stel ‘n digitale asiel-stelsel bekend om vertragings en misbruik te voorkom
# En krieket: Australië gaan nie skuurpapier-skandaal-ondersoek heropen nie ondanks Khawaja se onthullings
# Die vakbondfederasie COSATU verwelkom die hervatting van die Madlanga-kommissie se verhore en veral die beplande verskyning van sleutel-getuies, insluitend mense wat van ernstige strafregtelike oortredings verdink word. Woordvoerder Matthew Park sê die verhore is noodsaaklik om die volle omvang van staatskaping en korrupsie binne wetstoepassings-agentskappe te ontbloot. Hy sê hoë vlakke van misdaad en korrupsie is onder die vernaamste redes hoekom die ANC steun verloor het in die munisipale verkiesing:
# Binnelandse Sake het die eerste deel van sy digitale asiel-stelsel bekendgestel om aansoeke te versnel, identiteits-bevestiging te versterk en korrupsie uit te roei. Dit vereis van asielsoekers om biometriese inligting in te dien wat die departement sal gebruik om hulle identiteite te bevestig en vas te stel of vorige aansoeke verwerp is. Minister Leon Schreiber sê die digitalisering van die asielproses is ‘n geleentheid om die langdurige misbruik van die stelsel te beëindig.
# City Power in Johannesburg doen herstelwerk aan die Mayfair-substasie ná ‘n tweede ontploffing gisteraand. Woordvoerder Isaac Mangena sê die krag- en wateronderbrekings raak onder andere die SAUK in Aucklandpark, die Garden City-hospitaal en omliggende gebiede. Die gebied is tans beveilig en tegnici sal begin werk sodra die terrein veilig verklaar is, aangesien die personeel se veiligheid eerste gestel word:
En nou na die buiteland:
# Die Europese Unie se verteenwoordiger vir Buitelandse Sake en Veiligheidsbeleid, Kaja Kallas, het min hoop vir vandag en môre se Amerikaans-geleide vredesamesprekings tussen Rusland en Oekraïne in Abu Dhabi. Dis die eerste driesydige samesprekings om die oorlog te beëindig sedert Februarie. ‘n Belangrike twispunt is Oekraïne se oostelike Donetsk-streek wat tans deur Moskou beset word. Kallas sê Rusland toon geen teken dat hy bereid is om te goeder trou te onderhandel nie:
# Krieket: Australië gaan nie die ondersoek na die berugte skuurpapier-skandaal in Suid-Afrika in 2018 heropen nie, ondanks die gewese kolwer Usman Khawaja se onthullings in sy memoir. Hy beweer die hele toergroep het geweet van die plan om die bal met skuurpapier grof te maak, hoewel slegs kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft gestraf is. Krieket Australië se uitvoerende hoof, Todd Greenberg, sien nie enige dwingende rede vir ‘n nuwe ondersoek nie. Warner bevestig Khawaja se bewerings as 100-persent akkuraat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-38-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-592-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-116-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….