Nuus 11:00
BULLETIN 10 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema stel regseis in teen Helen Zille oor beweerde lasterlike opmerkings
# Amerikaans-geleide vredesamesprekings vir Rusland en Oekraïne hervat na nege maande
# En sokker: Bafana Bafana is terug op die oefenveld voor die belangrike AFCON-wedstryde teen Kenia
# Die EFF se leier, Julius Malema, het ‘n formele regseis ingestel teen die DA se federale voorsitter, Helen Zille, oor ‘n onderhoud met eNCA. Sy het beweer hy het besluite in die Stad Johannesburg dikteer, City Power gekaap, die vloottender tot sy en sy frontmaatskappye se voordeel beïnvloed, en gelas dat Shadrack Sibiya aangestel word as hoof van die metro se teen-korrupsie-eenheid. Malema sê die bewerings is vals en lasterlik. Hy het Zille tot môre tyd gegee om dit terug te trek en verskoning te vra.
# Die plaaslike regeringsvereniging SALGA is bekommerd oor politieke geweld en moorde tydens die munisipale verkiesingstydperk. Die polisie het 21 politiek-verwante moordsake aangemeld wat met die verkiesing verbind word, meestal in KwaZulu-Natal, Gauteng en die Oos-Kaap. SALGA se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê daar is geen plek vir geweld of intimidasie in Suid-Afrika se demokratiese proses nie:
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika het die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Indiensneming verwerp en gewaarsku kwotas vir buitelandse werkers sal ’n buitensporige administratiewe en finansiële las op ondernemings plaas. Die wetsontwerp bemagtig die Departement van Indiensneming en Arbeid om perke op die indiensneming van buitelandse werkers te stel, met boetes van tot een-miljoen-rand vir nie-voldoening. Gerhard Papenfus van NEASA voer aan dat werkloosheid eerder deur swak onderwys, ondoeltreffende bestuur en korrupsie veroorsaak word as deur immigrasie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Nuwe ronde vredesamesprekings, die eerste sedert Februarie, vind vandag en môre in Abu Dhabi plaas tussen Amerika, Rusland en Oekraïne. Dit volg nadat vorige onderhandelings nie enige vordering kon toon om die konflik te beëindig nie. President Donald Trump van Amerika se skoonseun en onderhandelaar, Jared Kushner, sê die doel is om Oekraïne en Rusland se kommer oor na-oorlogse veiligheid, voorstelle en moontlike oplossings te bespreek. Hy sê hulle werk hard om ʼn onderhandelde skikking te bereik wat blywende vrede sal bring.
# Sokker: Bafana Bafana het begin oefen vir dié maand se twee Afrikabeker-kwalifiseerders teen Kenia. Afrigter Pitso Mosimane het gisteraand sy eerste oefening aangebied sonder Mbekezeli Mbokazi, Lyle Foster en Puso Dithejane, wat in Amerika speel, en Relebohile Mofokeng en Sphephelo Sithole, wat vir Europese klubs speel. Hulle sluit vandag by die groep aan. Suid-Afrika sal die Harambee Stars Vrydag in Johannesburg verwelkom. Mosimane waarsku sy spelers om Kenia onder afrigter Benni McCarthy nie te onderskat nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-585-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….