Nuus 08:00
BULLETIN 10 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SALGA sê koalisie-reëlings moet bestendigheid en aanspreeklikheid bevorder
# Hoë waterverbruik vertraag die herstel van die reservoirs in Tshwane
# En Trump verdedig die minister van Verdediging, Hegseth
# Die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering, SALGA, sê politieke partye moet gemeenskappe bo politieke belange stel wanneer hulle gereedmaak om munisipale rade saam te stel. Geen volstrekte meerderheid is in 138 munisipaliteite behaal in die verkiesing nie, en koalisies moet gevorm word. SALGA se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê koalisie-ooreenkomste moet bestendigheid, aanspreeklikheid, doeltreffende oorsig en voortgesette dienslewering bevorder en nie tot politieke onbestendigheid lei wat munisipale prestasie verswak nie:
# Aluma Capital se hoofekonoom, Frederick Mitchell, sê die feit dat Suid-Afrika uitgesluit is van Amerika se Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, beteken die land verloor mededingendheid in nis-uitvoermarkte en kan duisende werksgeleenthede verloor. Verlede jaar het 89-persent van Suid-Afrika se uitvoere na Amerika onder gewone handelsterme plaasgevind, en sowat 10-persent onder AGOA, teenoor 28-persent in 2024. Mitchell sê die regering kan nie bekostig om die krisis te ignoreer nie, en moet oor pragmatiese bilaterale handelsoplossings onderhandel en aandag gee aan gemeenskaplike kommer oor veiligheid en beleid.
# Die Stad Tshwane sê volgehoue hoë watergebruik vertraag herstel by verskeie reservoirs in die metro. Gebiede wat geraak word, sluit in Mamelodi, Montana, Mabopane, Soshanguve, Ga-Rankuwa en Winterveldt. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê watervoorraad by die Atteridgeville hoëvlak-reservoir is uiters laag en tegniese spanne werk aan die stelsel. Hy sê Tshwane gaan voort om die watervoorraad in die betrokke gebiede te balanseer en waar nodig beheerde beperkings in te stel:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die Republikeinse kongreslid, Thomas Massie, gekritiseer omdat hy ampsklag-artikels teen die minister van Verdediging, Pete Hegseth, ingedien het. Massie beskuldig Hegseth dat hy onwettig, sonder die Kongres se goedkeuring, oorlog teen Iran maak en sy magte misbruik. Die poging sal waarskynlik misluk aangesien die Republikeine tot Januarie die mag in die Kongres behou. Daar moet teen môre daaroor gestem word. Trump sê hy ondersteun Hegseth:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka van Belarus, het die WTA-eindtoernooi in Indian Wells, Amerika, op ‘n wennoot afgeskop. Sy hoop om die toernooi die eerste keer in ses probeerslae te wen. Sabalenka het gesukkel met haar afslaan, maar Wimbledon se naaswenner, die Tsjeg Karolina Muchova, in skoon stelle geklop in Groep Twee. Die Franse Ope-kampioen, Mirra Andreeva van Rusland, het ‘n baie makliker oorwinning behaal oor Elina Svitolina van Oekraïne. Sy speel volgende teen Sabalenka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-658-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….