Nuus 07:00
BULLETIN 10 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê nuwe raadslede moet die vertroue in plaaslike regering herstel
# AfriForum verklaar 1 Desember tot ‘n wêreldwye herdenkingsdag vir slagoffers van plaasmoorde
# En die nuwe 007-rolprent neem vorm aan, terwyl dit steeds onbekend is wie Daniel Craig sal vervang
# President Cyril Ramaphosa vra pasverkose raadslede om voorkeur te gee aan dienslewering, om verby politieke verskille te werk en openbare vertroue in plaaslike regering te herstel. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief inkomende raadslede het ‘n belangrike rol om plaaslike regering te hervorm volgens die Witskrif vir dié spesifieke regeringsvlak. Die Witskrif sit maatreëls uiteen om munisipale finansiële bestuur te verbeter, meer fondse beskikbaar te stel vir onderhoud aan infrastruktuur en betroubare dienste aan inwoners te verseker. Ramaphosa sê raadslede moet gemeenskappe eerste stel en hul verantwoordelikhede met nederigheid nakom.
# AfriForum sê 1 Desember sal wêreldwyd waargeneem word as ‘n dag teen plaasmoorde, om slagoffers van plaasaanvalle te herdenk en hul gesinne te ondersteun. Die datum is gekies ter nagedagtenis aan die tweejarige Wilmien Potgieter, wat in 2010 saam met haar ouers op hul plaas in die Vrystaat vermoor is. Jacques Broodryk sê AfriForum sal ook met internasionale belanghebbendes skakel om bewustheid te ontwikkel oor plaasmoorde en geweld teen landelike gemeenskappe in Suid-Afrika:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, verwelkom die inhegtenisneming van die vermeende sluipmoordenaar van oudburgemeester Aubrey Tsengwa van Knysna. Hy is in Augustus vanjaar in Joodsekamp, Knysna, doodgeskiet terwyl hy op pad was huis toe. Die 44-jarige vermeende moordenaar het gister in die hof verskyn en die saak is tot 10 Desember uitgestel. Marais sê ʼn suksesvolle vervolging is nodig omdat diegene wat dodelike aanvalle beplan en uitvoer nie met hul gruweldade mag wegkom nie.
# Frankryk beskuldig Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps van verlede maand se kuberaanval op supermark-yskaste, en sê daar sal gevolge wees. Tydens die aanval is ys- en vrieskaste in sowat 700 supermarkte reg oor Frankryk se temperature verhoog. Dit het veroorsaak dat miljoene euro’s se vars en gevriesde voedsel bederf. Frankryk se minister van Buitelandse Sake, Jean-Noël Barrot, beskryf die aanval as die eerste grootskaalse kuberaanval vir sabotasiedoeleindes op nasionale grondgebied. Hy voeg by Frankryk gaan op ʼn Europese vlak vergelding-sanksies instel.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus verwag ʼn kolossale stryd teen Frankryk in Vrydagaand se Nasieskampioenskap-kragmeting in Parys. Hy het twee veranderinge aangebring aan die span wat Italië geklop het. Wilco Louw begin op vaskopstut terwyl Thomas du Toit na die bank verskuif, en skrumskakel Cobus Reinach vervang Grant Williams onder die plaasvervangers. Erasmus sê hulle moet hul wedstrydplan akkuraat uitvoer en die meeste maak van die geleenthede wat hulle skep om punte aan te teken:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-2-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Werk aan die volgende James Bond-rolprent vorder, maar die identiteit van die akteur wat Daniel Craig as 007 sal opvolg, is nog nie bekend gemaak nie. Verskeie Britse akteurs word skynbaar oorweeg, onder andere Callum Turner, Josh O’Connor en Jack Lowden. Robert Pattinson en Nicholas Hoult het glo ook onlangs oudisies gedoen. Denis Villeneuve, bekend vir die Dune-rolprente, is die regisseur vir die 26ste amptelike Bond-fliek, terwyl Steven Knight, die skepper van Peaky Blinders, die draaiboek skryf. Produksie sal na verwagting volgende jaar begin, met ‘n moontlike vrystelling in 2028.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….