Nuus 06:00
BULLETIN 10 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP sê hy sal koalisie-onderhandelinge met ‘n oop gemoed benader
# Business Leadership SA doen ‘n beroep op bestendige metro-koalisies om beleggersvertroue te versterk
# En Russell Brand is tot tien jaar en ses maande tronkstraf gevonnis
# Die IVP sê hy sal koalisie-onderhandelinge benader met ‘n oop gemoed en ‘n bereidwilligheid om konstruktief met ander politieke partye saam te werk. Die party het 4,69-persent van die nasionale stem in die plaaslike regeringsverkiesings verwerf en sal vyf rade beheer en 19 munisipaliteite lei. Sy koalisie-onderhandelingspan word gelei deur die nasionale voorsitter, Blessed Gwala, en sal die tesourier-generaal, Narend Singh, asook die provinsiale voorsitter vir KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli, insluit. Die IVP sê hy is vasbeslote om koalisies na te streef wat gegrond is op duidelike ooreenkomste, gedeelde prioriteite en wedersydse aanspreeklikheid.
Business Leadership South Africa sê intussen bestendige koalisie-regerings, vinniger toegang tot opgeleide buitelandse werkers en nuwe handelsooreenkomste is noodsaaklik om beleggings te lok en werksgeleenthede te skep. BLSA het ook die goedkeuring van 71 maatskappye vir versnelde visums vir opgeleide werkers verwelkom en gevra die skema moet uitgebrei word. In haar weeklikse nuusbrief moedig die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, politieke partye aan om dienslewering te prioritiseer wanneer koalisies in groot metropolitaanse gebiede, veral Johannesburg, gevorm word. Mavuso sê sakeondernemings staan gereed om munisipaliteite met vaardighede en hulpbronne te ondersteun.
# Die beweerde “Groot Vyf”-kartelbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala, beweer sy arrestasie was daarop gemik om ondersoekers te help om senior polisiebeamptes te bereik, insluitend die nasionale kommissaris van Polisie, Fannie Masemola, en die kommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi. Matlala het aan die Madlanga-kommissie gesê beamptes van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het hom na bewering uitgevra oor die twee generaals en ander polisielede. Hy beweer daar is vir hom gesê die ondersoek is daarop gemik om by ander mense uit te kom, nie vir hom nie:
# Die DA sê dringende optrede is nodig om geweldsmisdaad in Kaapstad aan te pak, na aanleiding van vier afsonderlike skietvoorvalle oor die naweek. Verskeie mense is dood en vele ander beseer, onder andere ‘n kind, in die skietvoorvalle in Grassy Park, Athlone, Strandfontein en Bellville. Onder die oorledenes is ‘n 16-jarige seun. Benedicta van Minnen van die DA vra beter ondersoeke en nouer samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe om bende-geweld en onwettige vuurwapens aan te pak:
# Die Britse akteur, komediant en mediapersoonlikheid Russell Brand is tot tien jaar en ses maande tronkstraf gevonnis vir verkragting en drie aanklagte van seksuele aanranding. Die 51-jarige is verlede week skuldig bevind aan die verkragting van ‘n 21-jarige vrou in 2009, asook die seksuele aanranding van drie ander in die 2000’s. Hy is vrygespreek van twee verdere aanklagte van verkragting en een aanklag van poging tot seksuele aanranding. Regter Joel Bennathan, wat die vonnis in die Southwark Crown Court in Londen opgelê het, het Brand as ‘n “seksuele roofdier” beskryf:
# Krieket: Die voormalige Australiese openingskolwer David Warner het sy steun toegesê aan Usman Khawaja se beweringe dat die hele Australiese span en afrigtingspersoneel bewus was van die plan om met die bal te peuter tydens die 2018-toetsreeks in Suid-Afrika. Warner sê Khawaja se weergawe is 100-persent akkuraat en het kritiek uitgespreek teen Krieket Australië se ondersoek, wat hy as oorhaastig en onvolledig bestempel. Khawaja het die beweringe in sy komende outobiografie gemaak. Krieket Australië het sy ondersoek verdedig. Dié ondersoek het bevind slegs Warner, Steve Smith en Cameron Bancroft het vooraf daarvan geweet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-33-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-13-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-140-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….