Nuus 18:00
BULLETIN 9 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering vra nuutverkose raadslede om gemeenskappe met integriteit te dien
# Die VN waarsku 2026 sal waarskynlik een van die vier warmste jare op rekord wees
# En, gholf: Tiener Blades Brown word jongste die PGA-toernooiwenner in 95 jaar
# Die regering het na verlede week se plaaslikeregeringsverkiesing, nuutverkose raadslede aangemoedig om gemeenskappe met integriteit, deursigtigheid en verantwoordbaarheid te dien. Die regering het Suid-Afrikaners gelukgewens met hul deelname aan die verkiesing, en die Verkiesingskommissie, die polisie en ander belanghebbendes geprys nadat hulle verseker het die verkiesing het veilig, vry en regverdig verloop. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, het ‘n beroep op gemeenskappe gedoen om saam met hul raadslede te werk ten einde beter en veiliger munisipaliteite te bou:
# Drie mans is dood en ‘n vierde gewond in ‘n verbyry-skietvoorval in Grassypark, Kaapstad. Die polisie sewoordvoerder Frederick van Wyk sê die aanvallers het uit ‘n wit Toyota Tazz losgebrand. Mediese personeel het die drie slagoffers op die toneel dood verklaar en die vierde is hospitaal toe geneem. Van Wyk sê die polisie se teen-bende-eenheid ondersoek die moorde:
# Vanjaar is op koers om een van die vier warmste ooit op rekord te wees. Dit is volgens ‘n verslag van die Verenigde Nasies wat vrygestel is met die opening van die COP31-klimaatberaad in Turkye. Wêreldtemperature het tussen Januarie en September was gemiddeld 1,47 grade Celsius bo pre-industriële vlakke. Die Wêreld Meteorologiese Organisasie waarsku ‘n sterk El Niño kan temperature voor die einde van die jaar hoër opstoot. Oseaantemperature en seevlakke het ook rekordhoogtes bereik, terwyl smeltende gletsers en uiterste weer tot die klimaatsrisiko’s bydra. Die afgelope 12 jaar was die warmste op rekord.
# Gholf: Die Amerikaanse tiener Blades Brown het die jongste wenner op die PGA-toer sedert 1931 geword nadat hy die World Wide Technology-kampioenskap in Mexiko gewen het. Die 19-jarige was sewe houe agter in die finale ronde maar klaargemaak op 63, nege onder. Hy het daarna sy mede-Amerikaner Ben James in ‘n uitspeelstryd geklop nadat albei die toernooi op 23 onder voltooi het. Brown het die oorwinning op die tweede putjie beklink nadat James ‘n voëltjie verbrou het. Dit beteken Brown neem vir twee jaar outomaties deel, asook in volgende jaar se PGA-kampioenskap wat sy eerste major-toernooi sal wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-630-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-30-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku Gauteng moet hierdie week voorberei vir uiterste hitte ná erge donderstorms en oorstromings. Pretoria en Vereeniging kan 36-grade-Celsius bereik en Johannesburg 34, met ‘n 38- tot 50-persent kans op buie. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê hittegolwe, brandgevaar én verspreide reënbuie word oor die res van die land verwag. ‘n Waarskuwing is uitgereik vir ‘n buitengewone hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Wes-Kaap. Owerhede sê donderstorms word ook in dele van Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….