Nuus 17:00
BULLETIN 9 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# IDAC swyg oor die beweerde kritieke toestand van sy geskorste hoofondersoeker, Dylan Perumal
# Die SANTACO leierskap praat met die Wes-Kaapse strukture te midde van die taxigeweld
# En, oliepryse daal na Trump aandui hy gaan straks nie opdrag gee vir nuwe aanvalle op Iran nie
# Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie gaan nie kommentaar lewer oor die persoonlike aangeleenthede van die geskorste hoofondersoeker, Dylan Perumal, nie. Dit volg na berigte dat hy Vrydag in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal in GuKompo-stad in die Oos-Kaap geneem is na ‘n beweerde selfmoordpoging. Daar is verwag dat Perumal binnekort voor die Madlanga-kommissie ondervra sou word. Hy is in Julie, tesame met ander ondersoekers, geskors ná bewerings van vervalste getuieverklarings en magsmisbruik. Versoeke is gedoen vir onafhanklike mediese evaluering.
# Die nasionale leierskap van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad, onder leiding van president Abnar Tsebe, vergader met taxiverenigings in die Wes-Kaap om die onlangse geweld en tragiese lewensverlies aan te spreek. SANTACO-woordvoerder Mmatshikhidi Rebecca Phala sê die afvaardiging hoop om die hoofoorsake te verstaan en geskille vreedsaam en wettig op te los. Phala sê die beskerming van menselewens moet bo alles gestel word, en het gepleit vir konstruktiewe gesprekvoering om bestendigheid vir pendelaars, operateurs en gemeenskappe te herstel:
# Oliepryse het gedaal nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, aangedui het hy sal waarskynlik nie opdrag gee vir nuwe aanvalle op Iran terwyl vredesonderhandelinge voortduur nie. Brent-ru-olie het Maandag met amper twee-persent tot 97-dollar per vat teruggesak. Die sagter benadering het die hoop op ‘n diplomatieke deurbraak laat opvlam, alhoewel hernude aanvalle op skeepvaart naby die Seestraat van Hormoes olievoorrade bedreig. Iran en Amerika het albei berig vaartuie is geteiken. Ontleders waarsku pryse sal wisselvallig bly tot skeepvaart deur die strategies belangrike waterweg na normaal terugkeer.
# Tennis: Coco Gauff van Amerika het haar landgenoot Jessica Pegula in drie stelle geklop om haar WTA-eindtoernooi-veldtog in Indian Wells op ‘n wennoot af te skop. Gauff, die wêreld-nommer-vier, het in twee uur-39-minute gewen. Pegula het van 5-1 in die tweede stel teruggeveg en ‘n wedstrydpunt afgeweer voor sy die valbylpot gewen het. Gauff het egter die beslissende stel oorheers om die kragmeting te beklink. Die kampioen van 2024 sê sy is in haar skik met haar vertoning in haar eerste wedstryd in meer as ‘n maand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-619-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-99-sent per vat.
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se Hindoe-gemeenskap gelukgewens met hulle Fees van Ligte, Diwali, en die Hindoe-Nuwejaar. Hy het Hindoe-gesinne ‘n geseënde en feestelike tydperk toegewens terwyl hulle die geleentheid herdenk met gebede, bepeinsing en vierings. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Diwali is ‘n wonderlike bevestiging van geloof en kultuur vir individuele aanhangers en die Hindoe-gemeenskap as ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se uiteenlopende nasie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….