Nuus 16:00
BULLETIN 9 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie bevraagteken dele van die voortslepende Matlala-ondersoeke
# Oproepe neem toe dat die Koalisie-wetsontwerp voor 2029 se verkiesing afgehandel moet word
# En rugby: Erasmus maak net twee veranderings vir Franse toets
# Die Madlanga-kommissie se kommissaris, Sesi Baloyi, bevraagteken of daar bewyse is dat Vusimuzi “Cat” Matlala ondersoek word oor sy getuienis in die parlement. Dit volg omdat Matlala se regsverteenwoordiger, advokaat Annelene van den Heever, die gebruik van sy mislukte pleit- en vonnisooreenkoms met die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie teëstaan. Sy voer aan verklarings wat met die mislukte onderhandelings verband hou is nie toelaatbaar as getuienis nie, en waarsku dit sal haar kliënt se regte skend:
# Oproepe neem toe dat die voorstelde Wetsontwerp op Koalisies afgehandel moet word voor 2029 se algemene en provinsiale verkiesing. Politieke partye het begin met onderhandelings na verlede week se munisipale verkiesing en het 14-dae om rade saam te stel. Die wetsontwerp will koalisie-onderhandelings tot 30-dae verleng en politieke bestendigheid bevorder. Daar is verwag dit sou voor verlede week se verkiesing deurgevoer word, maar is vertraag weens verskille tussen politieke partye en onvoldoende openbare deelname. Die regering het ‘n raamwerk bevestig vir riglyne oor die bestuur van munisipaliteite.
# Nieu-Seeland se twee grootste politieke partye het geskiedkundige verliese in Saterdag se verkiesing gely, met kiesers wat hul steun na kleiner partye verskuif het. Die Nasionale Party van eerste minister Christopher Luxon, en die amptelike opposisie, die Arbeidersparty, het albei vir die eerste keer minder as 30-persent van die stemme ontvang. Voorlopige uitslae gee die drieparty-koalisie ‘n meerderheid van slegs twee setels, wat kan verdwyn as buitelandse en spesiale stemme getel word. Kleiner partye is tans in ‘n beter posisie om regeringsbeleid te beïnvloed, wat toenemende ontevredenheid met gevestigde partye weerspieël.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het slegs twee veranderinge aangebring aan die span wat Italië geklop het, en op bestendigheid besluit vir Vrydag se Nasieskampioenskap-wedstryd teen Frankryk in Parys. Wilco Louw skuif na die begin-voorry en vervang Thomas du Toit, wat na die bank skuif, en Cobus Reinach sluit by die plaasvervangers aan in die plek van Grant Williams. Die res van die beginspan bly onveranderd, met Siya Kolisi as kaptein. Eben Etzebeth is nie deel van die wedstrydgroep van 23 nie, nadat hy onlangs eers by die groep aangesluit het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-808-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, het aangekondig dat Raymond Weels van Graham Beck Wines aangewys is as die algehele wenner van die 2026 Wes-Kaapse Prestige Landbou-toekennings. Die kompetisie, wat reeds sedert 2002 uitstaande landbouwerkers regoor die provinsie vereer, vier Weels se loopbaanpad van algemene werker tot vloerbestuurder. Meyer sê met meer as een-duisend-380 deelnemers vanjaar, beklemtoon die kompetisie die toewyding wat noodsaaklik is vir voedselproduksie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….