Nuus 13:00
BULLETIN 7 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê 98-persent van die verkiesingsuitslae is vasgelê en finalisering word later vandag verwag
# Die SAKP vra ‘n hersiening van die handelskonsessies wat aan die VSA toegestaan is
# En Meghan Markle se pa verskyn in ‘n Amerikaanse hof oor materiaal wat verbind word met die seksuele misbruik van kinders
# Die Verkiesingskommissie sê 98-persent van die uitslae van die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing was teen die middel van die oggend reeds ingevoer. Die Kommissie verwag om die proses vanmiddag te voltooi. Dit bring die land nader aan die afhandeling van die proses, met die oorblywende uitslae wat nog verwerk en geverifieer word. Die OVK sal waarskynlik verdere opdaterings gee met die oog op die aankondiging van die amptelike verkiesingsuitslag.
Die regering het intussen die 15,9-miljoen Suid-Afrikaners geloof wat in die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing gestem het, veral jongmense wat aan die demokratiese proses deelgeneem het. Die regering se adjunkwoordvoerder, William Baloyi, het die verwagte stempersentasie as ‘n belangrike mylpaal in die land se demokratiese ontwikkeling beskryf. Hoewel die Verkiesingskommissie nog nie die amptelike syfers oor die stempersentasie bekend gemaak het nie, het Baloyi berigte oor verhoogde deelname deur jongmense verwelkom:
# Die SAKP vra die regering om onmiddellik alle handelskonsessies en -reëlings te hersien wat aan Amerika toegestaan is ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Dit volg na die Amerikaanse administrasie se besluit om Suid-Afrika vanaf Januarie 2027 van AGOA uit te sluit. Die SAKP sê die hersiening moet tariefkwotas, handelsvoorkeure en voedselveiligheidskonsessies vir die invoer van pluimvee, beesvleis en varkvleis insluit. Die party versoek ook die regering om enige handels-, regulatoriese en marktoegangsooreenkomste te heroorweeg wat aangegaan is in reaksie op Amerikaanse eise oor Suid-Afrika se kwalifisering vir AGOA.
# Die werkersvakbond GIWUSA het ‘n aansoek deur Rustenburg Platinum Mines, ‘n filiaal van Valterra Platinum, sterk gekritiseer, wat vrystellings van verskeie bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes versoek. Die president van GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê die aansoek, wat by die Departement van Indiensneming en Arbeid ingedien is, kan fundamentele werkplekbeskerming vir mynwerkers in bedrywighede in Limpopo, Noordwes en Mpumalanga verswak. Hy sê die vrystellings sluit in werksdae van tot 13 uur en die verhoging van gemiddelde weeklikse oortyd:
# Thomas Markle, die vervreemde pa van die Hertogin van Sussex, Meghan Markle, het in ‘n Amerikaanse hof verskyn na sy arrestasie vir die besit van materiaal wat seksuele misbruik van kinders uitbeeld. Die 82-jarige is Vrydag in Florida in hegtenis geneem ná ‘n ondersoek deur die FBI. Agente het beslag gelê op ongeveer 78 items uit twee stooreenhede in Kalifornië. Volgens hofdokumente is Markle saam met minderjarige meisies op van die foto’s. Hy ontken die bewerings en het nog nie gepleit nie. ‘n Regter het hom vrygelaat onder voorwaardes van huisarres en elektroniese monitering terwyl die saak voortduur.
# En krieket: Die voormalige Australiese kolwer Mike Hussey gaan as raadgewende afrigter vir sy land optree tydens die komende reeks om die As teen Engeland en ook volgende jaar se eendag-Wêreldbeker. Die 51-jarige is genader ná Australië se gesukkel met die kolf in die onlangse reeks in Suid-Afrika, wat die Proteas met 2-1 gewen het. Hussey sal ook help tydens vandeesmaand se T20-tuisreeks teen Engeland, die toetsreeks teen Nieu-Seeland, die Olimpiese Spele van 2028 in Los Angeles en die T20-Wêreldbeker in dieselfde jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….