Nuus 08:00
BULLETIN 7 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK verwerp sosialemediabewerings oor onreëlmatighede in Mpumalanga-verkiesingsuitslae
# Die DA behou beheer oor die Midvaal-munisipaliteit met ‘n volstrekte meerderheid
# En in motorsport, Kimi Antonelli klop Lando Norris vir eerste plek in die tweede São Paulo-oefening
# Die OVK het bewerings op sosiale media verwerp dat verkiesingsuitslae in Wyke 4 en 23 van die Emalahleni-munisipaliteit in Mpumalanga teruggehou word omdat die aantal stembriewe meer is as die aantal geregistreerde kiesers. Die adjunkhoofverkiesingsbeampte, Masego Sheburi, sê die stempersentasie in albei wyke was effens meer as 50-persent. Die Kommissie het ook bewerings verwerp dat ‘n munisipale amptenaar vier keer gestem het. Die kieser is aanvanklik by die verkeerde stemdistrik geskandeer, waarna hy na die regte een verwys is.
Intussen het die DA het beheer oor die Midvaal-plaaslike munisipaliteit in Gauteng behou en ‘n volstrekte meerderheid in die plaaslike regeringsverkiesing behaal. Die burgemeester Peter Teixeira sê duisende inwoners het opgedaag om te stem en steun te verleen aan wat hy beskryf as vooruitgang onder ‘n DA-geleide administrasie. Hy sê die party het in die meerderheid van die munisipaliteit se wyke oorwinnings behaal, insluitend in Wyk 6 wat van die ANC afgeneem is:
# Die Departement van Elektrisiteit en Energie sê hulle sal gasverskaffers, ontwikkelaars en infrastruktuurbelanghebbendes betrek voordat hulle nog ‘n gas-tot-krag-verkrygingsproses aanpak. Die konsultasies is daarop gemik om kommersiële, tegniese en finansiële uitdagings aan te spreek na al vier tenders onder die eerste verkrygingsvenster verwerp is. Die Departement sê die tenderaars kon nie gasvoorsiening waarborg nie. Die maatskappye sal toegelaat word om weer te tender, met prosestoesig deur die Onafhanklike Kragprodusentekantoor. Die Geïntegreerde Hulpbronplan maak voorsiening vir opwekking van drie-duisend-megawatt deur gas.
# Motorsport: Die pas gekroonde Formule 1-wêreldkampioen, Kimi Antonelli, het Vrydag tydens die tweede oefensessie vir die São Paulo Grand Prix die vinnigste tye aangeteken. Die Mercedes-renjaer het die vinnigste rondte van een minuut 10,763 sekondes aangeteken, 0,253 sekondes vinniger as Lando Norris van McLaren, wat die eerste sessie gelei het. Max Verstappen van Red Bull was derde, net voor George Russell in die ander Mercedes. Antonelli het die wêreldkampioenskap vir renjaers verlede naweek in Mexiko ingepalm. Kwalifisering vind later vandag plaas, met reën wat vir môre se wedren by Interlagos voorspel word.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Elena Rybakina van Kazakstan, en Linda Noskova van Tsjeggië wat agtste op die ranglys is begin môre met die WTA-eindtoernooi in Indian Wells in die VSA. Die wêreld se agt beste vrouespelers neem deel in ‘n rondomtalie-formaat, waarna die twee voorste spelers in elke groep deurdring na die halfeindstryd. Die ander twee spelers in Groep Een is die Amerikaners Coco Gauff en Jessica Pegula. Die wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka van Belarus, ding in Groep Twee mee saam met die Rus Mirra Andreeva, Elina Svitolina van Oekraïne en nog ‘n Tsjeg, Karolina Muchova.
# En ten slotte, die 28ste jaarlikse Rotariër-wynveiling het 450-duisend-rand vir die Nasionale Seereddingsinstituut ingesamel. Die geleentheid is deur die Rotariërklubs van Nuweland en Tafelbaai by Kaapstad se Lagoon Beach-hotel aangebied. Die woordvoerder van die NSRI, Andrew Ingram, sê die fondse sal gaan vir die aankoop van ‘n nuwe JetRIB vir die Gordonsbaai-reddingstasie. Hy sê die hoëspoedvaartuig sal kus- en branderplank-reddingsoperasies versterk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….