Nuus 15:00
BULLETIN 6 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC erken die behoefte om kiesersvertroue te herstel
# Zuma-Sambudla se aansoek om strafregtelike aanklagte te laat vaar word geweier
# En rugby: Ierland en die Pumas skop die Nasieskampioenskap se noordelike ronde in Dublin af
# Die ANC gaan diep besin terwyl hy sy verkiesingsprestasie en die bekommernisse van sy ondersteuners ontleed. Die party se woordvoerder, Mahlengi Bhengu, het in die nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng, gesê hulle besef openbare vertroue moet herstel word, veral in dienslewering en stadsbestuur. Sy sê die ANC sal fokus op gebiede waar sy steun afgeneem het:
Die OVK ondersoek intussen ‘n voorval van inmenging by ‘n stempunt in Douglas in die Noord-Kaap, waar stembriewe na bewering opgeskeur is voor die telproses kon begin. Die OVK se adjunk- uitvoerende hoof van Verkiesingsbedrywighede, Masego Sheburi, sê lede van ‘n politieke party het die perseel bestorm en beheer daarvan geneem. Minstens een-duisend-300 stemme is daar uitgebring. Die OVK oorweeg hoe die voorval die stembriewe gaan raak en beskryf die optrede as onaanvaarbaar.
# Die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Durban het oudpresident Jacob Zuma se dogter se aansoek verwerp om aanklagte teen haar te laat vaar in verband met die onluste van Julie 2021. Duduzile Zuma-Sambudla word beskuldig van die aanhitsing van terrorisme en openbare geweld op sosiale media nadat haar pa begin het om sy tronkstraf uit te dien. Die saak is tot 17 Mei volgende jaar uitgestel. Zuma-Sambudla het buite die hof gesê sy sal aanhou veg om haar onskuld te bewys:
Nuus uit die buiteland:
# Nieu-Seeland se verkiesingsveldtog het sy laaste dag bereik en meningspeilings toon die regerende Nasionale Party is kort op die hakke van die opposisie-Arbeidersparty. Eerste minister Christopher Luxon en Arbeider-leier Chris Hipkins het vroeër vandag vir oulaas steun gewerf voor môre se verkiesing. Volgens die jongste meningspeiling staan die Arbeiders op 30,7-persent en die Nasionale Party op 26,4-persent. Daar word nie verwag enige van die twee sal genoeg setels wen nie, dus sal kleiner partye, veral die Geleentheidsparty, moontlik ‘n deurslaggewende rol speel. Ekonomiese druk en die lewenskoste oorheers die verkiesingsveldtog.
# Rugby: Die noordelike afdeling van die Nasieskampioenskap skop vanaand in Dublin af, waar Ierland gasheer is vir Argentinië. Afskop is net na agtuur. Môremiddag 1.40 speel die Springbokke in Turyn teen Italië, gevolg deur die wedstryd tussen Skotland en die All Blacks op Murrayfield in Edinburg. Daarna verwelkom Wallis vir Japan in Cardiff, terwyl Frankryk en Fidji mekaar in Lyon die stryd aansê. Sondagmiddag pak Engeland en die Wallabies mekaar op Twickenham in Londen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-59-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-71-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….