Nuus 08:00
BULLETIN 11 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom staar ‘n tekort aan opwekkingskapasiteit in die gesig, en implementeer fase 6 onbepaald
# President Ramaphosa loof ontslape Namibiese president Hage Geingob vir etiese leierskap
# En, Sokker: Dis Brons vir Bafana in die Afrikabeker
# Eskom het aangekondig hy worstel met onvoldoende opwekkingskapasiteit aangesien tien eenhede van lyn af is weens ketelbuis-lekkasies. Die woordvoerder, Daphne Mokoena, bevestig die terugslag het gelei tot die onbepaalde instelling van Fase 6. Vertragings met die terugkeer van drie eenhede wat beplande instandhouding ondergaan, vererger die toestand en lei tot groter afhanklikheid van noodreserwes. Mokoena beklemtoon die dringende behoefte om reserwes aan te vul en onvoldoende opwekkingskapasiteit aan te spreek:
# Die Mededingingskommissie het ‘n uitnodiging gerig vir openbare deelname aan ‘n markondersoek na die pluimveebedryf-waardeketting. Die kommissie het rede om te glo daar is kwessies in die pluimveemark wat mededinging kan belemmer, verwring of beperk. Belanghebbendes word versoek om teen 8 Maart skriftelike terugvoer oor konsepopdragte in te dien. Die hoofekonoom, James Hodge, het die belangrikheid van markbillikheid beklemtoon, veral in ‘n sektor wat noodsaaklik is vir proteïene-voorsiening vir die meerderheid Suid-Afrikaners, en veral lae-inkomste huishoudings
# Die Stad Johannesburg en die stadsbestuurder, Floyd Brink, is vir minagting van die Hof gestraf vir die oortreding van ‘n bevel rakende ‘n hoë waterrekening-dispuut met ‘n besigheid. Die Stad het na bewering die besigheid se watertoevoer gesny in stryd met ‘n vorige beslissing oor die dispuut wat terugdateer na 2022. Hoewel die water later ná ‘n tien-dae-lange onderbreking weer aangesluit is, het die besigheid aansienlike skade gely. Regter Leonard Twala van die Gautengse Hooggeregshof het Brink 30-dae gevangenisstraf opgelê, wat vir ‘n jaar opgeskort is op neergelegde voorwaardes.
# President Cyril Ramaphosa het meegevoel namens Suid-Afrikaners uitgespreek, ná die heengaan van die voormalige Namibiese president Hage Geingob. Hy het tydens sy besoek in Windhoek gepraat en Geingob se pogings om Namibiërs te verenig, én sy verbintenis tot etiese beginsels geloof. Ramaphosa het ook erkenning gegee aan Geingob se visie vir sterker bande tussen Namibië en Suid-Afrika:
# En, laastens, Sokker: Bafana Bafana het die derde plek in die Afrikabeker-toernooi gewen toe hulle die Demokratiese Republiek van die Kongo ses-vyf met strafdoele geklop het. Die wedstrydtelling was doelloos na volle tyd, en ‘n strafdoel-sessie het gevolg nadat geen ekstra tyd toegelaat is nie. Teboho Mokoena het Bafana se eerste strafdoel misgeskop, maar die kaptein, Ronwen Williams, het twee strafskoppe afgeweer, en Bafana só die voorsprong gegee. Die AFCON-eindstryd word vanaand om tienuur beslis tussen Nigerië en Ivoorkus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….