Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-slot Ruan Nortjé steun Salmaan Moerat ten volle voor môre se Nasieskampioenskapswedstryd teen Italië in Turyn. Die twee voormalige Junior Springbokke hervat ’n vennootskap wat reeds in 2017 begin het. Die 28-jarige Moerat, wat nog nie vanjaar vir die Bokke gespeel het nie, het onder kritiek deurgeloop en sommige het sy insluiting in die groep bevraagteken. Nortjé sien daarna uit om Italië saam met Moerat te pak:
Frankryk se afrigter, Fabien Galthié, het intussen die ster-skakelpaar Romain Ntamack en Antoine Dupont herenig vir môre se kragmeting met Fidji in Lyon. Dis die eerste keer sedert Maart verlede jaar dat hulle saam in die opdrafspan is nadat albei met beserings gesukkel het. Dupont is kaptein en die senter Kalvin Gourgues is die eerste keer in die beginspan. Die losvoorspeler Esteban Capilla kan sy buiging van die bank maak nadat hy die beseerde Oscar Jegou vervang het. Frankryk speel volgende Vrydag teen Suid-Afrika.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Pitso Mosimane, het ’n sterk groep van 27 spelers gekies vir dié maand se twee Afrikabeker- kwalifiseerders teen Kenia. Die doelskieter Lyle Foster van Houston Dynamo en Mbekezeli Mbokazi van Chicago Fire keer terug, terwyl die voorspeler Siyanda Ndlovu beloon is vir sy vertonings by Mamelodi Sundowns. Mosimane het die doelwagter en kaptein, Ronwen Williams, asook die middelveldspeler Teboho Mokoena ingesluit, ondanks onlangse knaende beserings. Die twee spanne speel volgende Vrydag in Johannesburg en vier dae later in Nairobi.
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler, Marco Jansen, is benoem vir die Internasionale Krieketraad se manspeler van die maand vir Oktober. Die 26-jarige speler is in die onlangse toetsreeks teen Australië aangewys as speler van die reeks ná sy 198 lopies en 13 paaltjies in drie toetse. Suid-Afrika het die reeks 2-1 gewen. Arafat Minhas en Shai Hope van Pakistan is ook benoem. Deepti Sharma van Indië, Sobhana Mostary van Bangladesj en die Australiër, Annabel Sutherland, is vir die vroue se toekenning benoem.
# En laastens, tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, het na die kwarteindronde van die Paryse Meesterstoernooi deurgedring toe die Italianer Matteo Berrettini weens ‘n besering moes onttrek aan hul derderonde-wedstryd. Die Spanjaard speel vandag teen die Amerikaner Taylor Fritz, wat steeds kan kwalifiseer vir die ATP-jaareindtoernooi in Turyn nadat hy die Fransman Arthur Fils geklop het. Die Australiese kwalifiseerder Ricky Hijikata, die Fransman Luca van Assche, die Amerikaners Tommy Paul en Ben Shelton, Nuno Borges van Portugal en die Noorweër Casper Ruud het ook deurgedring na die kwarteindronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….