Nuus 11:00
BULLETIN 6 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan waarskynlik nie ‘n meerderheid behaal in enige van die agt metro’s nie
# Melania Trump vra ‘n langduriger skietstilstand in Oekraïne
# En rugby: Nortjé steun Moerat na kritiek oor sy insluiting in die Springbokspan
# Die verwerking van verkiesingsuitslae vorder goed en 72-persent van die stemme is nou nasionaal getel. Die ANC loop landwyd voor met 31,92-persent, maar stuur af op ‘n gevoelige nederlaag, want daar word verwag dat hy nie ‘n meerderheid in enige van die agt metro’s sal behaal nie. Die DA sal na verwagting in minstens vyf die meeste stemme kry. Die ANC het steun verloor in Gauteng, waar die DA met 34,44-persent voorloop, terwyl ActionSA tweede is in Tshwane. Kaapstad is die enigste metro wat die DA alleen sal regeer.
Build One South Africa sê intussen kiesers was met rede versigtig om hul vertroue te plaas in ʼn party wat homself nog nie in plaaslike regering bewys het nie. BOSA het verteenwoordiging gekry in al vier metro’s waar hy deelgeneem het: Johannesburg, Tshwane, Kaapstad en Ekurhuleni. Partyleier Mmusi Maimane sê hulle sal die tydperk na die verkiesing opbouend benader, en waar koalisies nodig is, bereid wees om met ander partye te onderhandel tot voordeel van inwoners:
# Die Nasionale Tesourie sê die regering bereik steeds sy fiskale teikens en dit lyk tans selfs beter as wat voorspel is. Die land se skuld-tot-bruto-binnelandse-produk-verhouding sal na verwagting teen 2032/33 tot onder 70-persent daal – ʼn jaar gouer as wat in die mini-begroting voorspel is. Dit volg op Statistiek Suid-Afrika se herbepaling van die BBP wat die gemete omvang van die ekonomie in 2025/26 met 5,1-persent verhoog het. Die Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê dit weerspieël nie nuwe inkomste-winste, besnoeiings in besteding of ‘n vermindering van regeringskuld nie.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse presidentsvrou, Melania Trump, vra dat die tydelike skietstilstand in Oleshky moet dien as vonk vir blywende vrede in Oekraïne. Die onderbreking wat Sondag verstryk het, het toegelaat dat noodsaaklike humanitêre hulp die Russies-besette dorp suid van Kiëf bereik en byna 800 inwoners kon die gebied verlaat. Trump, wat wyd erkenning kry vir die skietstilstand, sê die beskerming van onskuldige mense moet voorkeur kry bo die bitter verdeling van oorlog:
# Rugby: Die Springbok-slot Ruan Nortjé steun Salmaan Moerat ten volle voor môre se Nasieskampioenskapswedstryd teen Italië in Turyn. Die twee voormalige Junior Springbokke hervat ’n vennootskap wat reeds in 2017 begin het. Die 28-jarige Moerat, wat nog nie vanjaar vir die Bokke gespeel het nie, het onder kritiek deurgeloop en sommige het sy insluiting in die groep bevraagteken. Nortjé sien daarna uit om Italië saam met Moerat te pak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-317-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-45-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….