Nuus 09:00
BULLETIN 6 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sal in vier metro’s verteenwoordiging kry in sy heel eerste plaaslikeregeringsverkiesing
# Wetstoepassingsagentskappe bly waaksaam terwyl die vaslegging van verkiesingsuitslae voortduur
# En tennis: Alcaraz en Fritz dring deur na die kwarteindronde van die Parys-meesters
# Build One South Africa sê kiesers was met rede versigtig om hul vertroue te plaas in ‘n party wat hulself nog nie in plaaslike regering bewys het nie. BOSA het na sy eerste plaaslikeregeringsverkiesing verteenwoordiging gekry in al vier metro’s waar hy deelgeneem het: Johannesburg, Tshwane, Kaapstad en Ekurhuleni. BOSA-leier Mmusi Maimane sê hulle sal die periode na die verkiesing opbouend benader, en waar koalisies nodig is, is hulle bereid om met ander partye tot voordeel van inwoners te onderhandel:
Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê intussen wetstoepassingsagentskappe bly waaksaam terwyl die Verkiesingskommissie voortgaan met die tel, verwerking, verifikasie en vaslegging van die plaaslikeregeringsverkiesing se uitslae. Wetstoepassing volg tydens die verkiesing ʼn intelligensie-gedrewe benadering tot bedrywighede en gee veral aandag aan 331 stemlokale in KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap, Mpumalanga en Gauteng wat as moontlike brandpunte geïdentifiseer is. NATJOINTS se voorsitter, Tebello Mosikili, sê stemgeregtigde kiesers kon hul demokratiese regte in veiligheid uitoefen:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, sê ’n mylpaal-resolusie van die Verenigde Nasies sal internasionale pogings versterk om omgewingsmisdaad te bekamp. Die resolusie, wat met die steun van Suid-Afrika ingedien is, sal lei tot die ontwikkeling van ’n internasionale protokol wat fokus op die smokkel van wild en hout, onwettige mynbou, die onwettige handel in minerale en edelmetale, asook die smokkel van afval. Maynier sê lande moet saamwerk om georganiseerde misdaadnetwerke, wat natuurlike hulpbronne uitbuit, die hoof te bied:
# ‘n Enorme ineenstorting op Wall Street het ongeveer 41,22-duisend-miljard-rand aan markwaarde van groot tegnologiemaatskappye in die VSA en Asië uitgewis. Die groot vlaag van verkope is veroorsaak deur beleggers se kommer oor ‘n moontlike verlangsaming in die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie, in die nadraai van die Demokratiese Party se oorwinning in die Amerikaanse middeltermynverkiesing. Die tegnologie-gedrewe Nasdaq het gister met 5,5 persent gedaal, terwyl die aandele van die KI-reus Nvidia met ongeveer nege-persent getuimel het. Op Asiatiese markte het Suid-Korea se Kospi vandag tydens vroeë verhandeling met byna nege-persent geval, en Japan se Nikkei 225 was ses-persent laer.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, het na die kwarteindronde van die Parys-meesters deurgedring na sy teenstander, die Italianer Matteo Berrettini, weens ‘n besering aan hul derde ronde-wedstryd onttrek het. Die Spanjaard kom vandag teen die Amerikaner Taylor Fritz, te staan wat sy hoop lewend gehou het om vir die laaste ATP-toernooi van die seisoen in Turyn te kwalifiseer, deur die Fransman Arthur Fils te klop. Die Australiese kwalifiseerder Ricky Hijikata, die Fransman Luca Van Assche, die Amerikaners Tommy Paul en Ben Shelton, Nuno Borges van Portugal en die Noorweër Casper Ruud het ook deurgedring na die kwarteindronde in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-550-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-42-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….