Nuus 16:00
BULLETIN 5 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier Geordin Hill-Lewis sien daarna uit om weer in Kaapstad aan bewind te wees
# Omnia se aandeelhouers keur die Solar-groep van Indië se koopaanbod van 21,8-miljard-rand goed
# En motorsport: Antonelli help Mercedes nou om ook die vervaardigerskampioenskap in te palm
# Die DA-leier en burgemeesterskandidaat vir die Stad Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê volgens huidige vooruitskattings sal die party 58-persent van die stemme in die stad ontvang na gister se munisipale verkiesing. Hy het aan die media gesê Kaapstad kan die enigste metro met ‘n meerderheidsregering wees indien die huidige stemneiging voortduur. Hill-Lewis sê hy sien uit na nog ‘n termyn om die stad te bestuur:
Die Inkatha Vryheidsparty teken tans gemengde uitslae aan en sal dit deeglik ontleed voor koalisiegesprekke oorweeg word. Die party se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, het in die nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng, gesê die IVP het goeie vordering getoon in Umzumbe, waar die party reeds 15 uit die 20 wyke gewen het. Hy sê uitslae vanaf landelike munisipaliteite wat steeds inkom, kan die politieke prentjie aansienlik verander:
In Limpopo is ‘n 31-jarige lid van die EFF naby ‘n stempunt in Polokwane doodgesteek. Volgens die polisie het die voorval vanoggend omstreeks vyf-uur plaasgevind ná ‘n rusie tussen twee persone wat blykbaar aan dieselfde politieke party behoort. Die verdagte het glo na die toneel teruggekeer en die slagoffer in die nek gesteek voor hy gevlug het. Die polisie het later ‘n 35-jarige man in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting môre in die plaaslike Landdroshof verskyn op aanklag van moord.
# Aandeelhouers van Omnia het ‘n koopaanbod van 21,8-miljard-rand deur die Solar-groep van Indië goedgekeur. Dit baan die weg vir die 73-jaar oue Suid-Afrikaanse kunsmis- en plofstofvervaardiger om sy notering op die Johannesburgse Aandelebeurs te skrap. Die aanbod waardeer die onderneming teen 134-rand-50-sent per aandeel. Solar sê die ooreenkoms weerspieël sy vertroue in Omnia se langtermyn-groeivooruitsigte. Die verkryging sal na verwagting Solar se wêreldwye mynbouplofstof-bedrywighede versterk en sy landboubelange uitbrei, onderhewig aan goedkeuring.
# Motorsport: Kimi Antonelli se vieringe is vir eers verby, aangesien hy sy visier op sy Mercedes-Formule Een-span gestel het om die vervaardigerskampioenskap in te palm tydens die naweek se Grand Prix in São Paulo, Brasilië. Die 20-jarige Italianer het verlede naweek die jongste renjaer in F1-geskiedenis geword om die bestuurders-kampioenskap te beklink, met nog vier wedrenne oor. Mercedes is tans 126 punte voor sy naaste mededinger, Ferrari, en hoef slegs drie of meer punte meer as die Italiaanse span aan te teken om die dubbeloorwinning te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-12-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….