Nuus 14:00
BULLETIN 5 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK voltooi die vaslegging van uitslae in 18 munisipaliteite
# Die Republikeine vra Trump om van rigting te verander ná die middeltermyn-nederlaag
# En sokker: ‘n Nuwe wêreldrekord van 51 rooikaarte word uitgereik tydens ‘n jeugwedstryd in Brasilië
# Hoofverkiesingsbeampte Sy Mamabolo sê die vaslegging van uitslae is reeds afgehandel in 18 munisipaliteite in die Noord-, die Wes- en die Oos-Kaap. Hy het in die Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng, gesê 35,5-persent van die verwagte uitslagstate is reeds geskandeer, terwyl 34,8-persent vasgelê is. ‘n Kwart van alle uitslagstate is ook reeds deur onafhanklike ouditeure nagegaan. Mamabolo sê goeie vordering word gemaak ondanks langer stembriewe en ‘n groter as verwagte kiesersopkoms:
Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek intussen die diefstal van stembriewe en ander sensitiewe verkiesingsmateriaal by ‘n stemlokaal in Hillcrest. Volgens woordvoerder Robert Netshiunda het ʼn voorsittende OVK-beampte Dinsdagaand sensitiewe verkiesingsmateriaal na ʼn skool geneem wat as stemlokaal gebruik word. Hy sê die beampte het dit in ʼn waghuis gebêre voor hy die skool se hek gesluit en vertrek het:
# Die MANCOSA Skool van Inligting en Digitale Tegnologie sê die vinnige groei van kunsmatige intelligensie hervorm nywerhede, ekonomieë en die alledaagse lewe. Tegnologiese vooruitgang bring ook ingewikkelde uitdagings en verhoog die behoefte aan gevorderde digitale vaardighede, kritieke denke en vernuwende probleemoplossing. Woordvoerder Adri Venter sê ekonomiese groei en maatskaplike ontwikkeling vereis dat jong Suid-Afrikaners voorberei word om hul weg te vind in die veranderende digitale omgewing:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, verkeer onder druk van sy eie Republikeinse Party om van rigting te verander nadat die Demokrate die Kongres gewen het in die middeltermynverkiesing. Veranderings word gevra aan sy span in die Withuis en die heroorweging van beleid rondom Iran en invoertariewe. Visepresident JD Vance gee die oorlog met Iran die skuld vir die nederlaag. Trump blyk egter onwillig te wees om te verander en beweer die uitslae is nie ‘n persoonlike terugslag nie. Die Demokrate kan nou wetgewing stuit en ondersoeke na sy administrasie instel.
# Sokker: Die 51 rooikaarte wat tydens ʼn enkele wedstryd in Brasilië uitgereik is, is ʼn nuwe wêreldrekord. Dis uitgedeel aan 43 spelers en agt afrigtingspersoneellede tydens die eerste kragmeting van die Onder-20-kampioenskaps-halfeindstryd tussen Uberlândia en Mamoré in Minas Gerais, wat daartoe gelei het dat die militêre polisie ontbied is. Volgens die skeidsregters-verslag het die geveg in die tweede helfte uitgebreek toe ʼn speler van Mamoré die teenstanders se bank getart het toe sy span 3-1 voorgeloop het. ʼn Afrigter van Uberlândia het daarna op die veld gehardloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-298-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-123-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….