Nuus 13:00
BULLETIN 5 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA loop tans voor in Johannesburg en Ekurhuleni namate Gauteng se uitslae inkom
# Tshwane berei voor vir ‘n moontlike koalisieregering
# En rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok teken ‘n kontrak met die Haaie
# Die DA loop tans voor in die Gautengse metro’s Johannesburg en Ekurhuleni namate uitslae steeds inkom. Die DA het in Johannesburg 42-persent van die steun gewerf, gevolg deur ActionSA met 15.5-persent en die ANC in die derde plek met 15-persent. Die DA loop ook in Ekurhuleni voor met 43.7-persent, terwyl die ANC 14-persent steun gewerf het. ActionSA loop in Tshwane voor, gevolg deur die ANC en die DA.
Intussen berei Tshwane se burgemeesterskandidate hulle voor op nog ‘n moontlike koalisieregering terwyl stemme steeds getel word. Geen party sal na verwagting ‘n algehele meerderheid behaal nie en koalisiegesprekke begin waarskynlik binnekort. Tshwane word sedert 2016 deur koalisies regeer, gekenmerk deur politieke onbestendigheid en die gereelde wisseling van burgemeesters. Die DA-kandidaat, Cilliers Brink, sê hulle sal slegs met partye saamwerk wat daartoe verbind is om water- en kragprobleme op te los en die oppergesag van die reg te herstel. ActionSA sê inwoners se belange sal altyd voorrang kry.
Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê stemme word onder streng deursigtigheid en aanspreeklikheidsmaatreëls getel en bevestig. Hy sê stembriewe word by stempunte getel in die teenwoordigheid van party-agente en geakkrediteerde waarnemers. Die uitslagstate word daarna in verseëlde koeverte na vasleggingsentrums geneem. Mamabolo sê ‘n omvattende gehaltebeheerproses is ingestel om die integriteit van die proses te verseker:
# Die omgewingsgroep, The Green Connection, vra die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing om die besluite bekend te maak wat toelaat dat kommersiële sardynvangste voortgaan. Dit volg ná massa-sardynvrektes langs sowat twee-duisend-600 kilometer van die land se kuslyn, en wat aan die sardyn-herpesvirus toegeskryf word. Neville van Rooy van The Green Connection vra dat sardynvangste tydelik opgeskort word tot ‘n biomassa-ondersoek afgehandel en ʼn nuwe beperking op vangste aangekondig is:
# Rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok het ʼn meerjarige ooreenkoms met die Haaie onderteken wat in Julie volgende jaar van krag word. Die 29-jarige, wat in 34 toetse gespeel het, was in 2020 en 2021 ʼn kort rukkie by dié span voor hy by die Stormers aangesluit en hulle gehelp het om in 2022 hul eerste Verenigde Rugbykampioenskaps-beker te wen. Die Wêreldbeker-wenner speel tans in Japan vir Hanazono Kintetsu Liners. Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, sê Libbok se aanvalsvermoë en ervaring sal van onskatbare waarde wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-242-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-127-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….