Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx is op pad na Pretoria. Die Bulle het bevestig hulle het die huidige wêreldspeler van die jaar gekontrakteer. Marx het verlede week aangekondig dat hy Japan middel volgende jaar gaan verlaat. Die 32-jarige Marx sal herenig word met afrigter Johan Ackermann, wat vroeër sy mentor was by die Leeus. Hy het in 94 toetse vir Suid-Afrika 29 drieë gedruk – die meeste deur enige Bok-voorspeler. Ackermann sê dis ’n groot eer dat ’n speler van Marx se gehalte hom tot die Bulle verbind het.
Intussen het die Springbok-losskakel Manie Libbok ‘n meerjarige ooreenkoms met die Haaie onderteken wat in Julie volgende jaar van krag word. Die 29-jarige, wat in 34 toetse gespeel het, was in 2020 en 2021 ʼn kort rukkie by dié span voor hy by die Stormers aangesluit en hulle gehelp het om in 2022 hul eerste Verenigde Rugbykampioenskaps-beker te wen. Die Wêreldbeker-wenner speel tans in Japan vir Hanazono Kintetsu Liners. Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, sê Libbok se aanvalsvermoë en ervaring sal van onskatbare waarde wees.
# Gholf: Die privaat kapitaalfirma BC Partners Credit gaan glo sy bod laat vaar om die toekoms van LIV-gholf te finansier omdat hy nie genoeg speler-verbintenisse kon kry vir volgende seisoen nie. Die maatskappy het ’n finansieringspakket van 4,98-miljard-rand vir LIV 2.0 beplan nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds in April sy steun onttrek het. Die liga moes daarna om bankrotskapsbeskerming aansoek doen. Vooraanstaande spelers, waaronder Louis Oosthuizen, Jon Rahm, Sergio Garcia en Tyrrell Hatton, het intussen onttrek. Financial Times berig dit lyk of LIV nou sy bedrywighede gaan staak.
# Tennis: Die tafel is gedek vir die WTA-eindtoernooi wat Sondag in Indian Wells, Amerika, begin. Die wêreld se agt beste vrouespelers sal in rondomtalie-formaat meeding en die twee voorste spelers in elke groep dring deur na die halfeindronde. Die topgekeurde Elena Rybakina van Kazakstan is saam met die Amerikaners Coco Gauff en Jessica Pegula en die Tsjeg Linda Noskova in Groep Een. Die wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka, voer Groep Twee aan, wat ook bestaan uit die Rus Mirra Andreeva, Elina Svitolina van die Oekraïne en nog ‘n Tsjeg, Karolina Muchova.
En manstennis: Die Serwiër Novak Djokovic kon slegs die tweede keer in sy loopbaan nie vir die ATP-jaareindtoernooi in Turyn kwalifiseer nie. Die 39-jarige speler wat waarskynlik die halfeindronde in die Paryse Meesterstoernooi moes haal om te kwalifiseer, het teen die Australiese kwalifiseerder, Rinky Hijikata, verloor. Djokovic het 2017 se toernooi weens ʼn elmboogbesering misgeloop. Die wêreld-nommer-een, Alexander Zverev van Duitsland, het verrassend verloor teen Lorenzo Musetti van Italië. Die Spanjaard, Carlos Alcaraz, die hoogste gekeurde speler wat oorbly, het die Amerikaner Alex Michelsen in skoon stelle afgeransel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….