Nuus 07:00
BULLETIN 5 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC word die eerste party wat ‘n wyk wen, terwyl die uitslae begin inkom
# Die NVG gee voorrang aan sake wat met die verkiesing verband hou
# En JD Vance sê die oorlog in Iran is die rede waarom hulle die verkiesing verloor het
# Die Verkiesingskommissie het begin om die eerste uitslae van die plaaslikeregeringsverkiesing bekend te maak. Die ANC is die eerste party om ‘n wyk te wen, en wel Wyk Drie in die Kamiesberg-munisipaliteit in die Noord-Kaap, met 52,54-persent. Slegs drie-persent stemme is nasionaal klaar getel, en 939 van die 23-duisend-696 stemdistrikte is afgehandel. Die OVK sê die finale uitslag en toekenning van raadsetels sal binne sewe dae aangekondig word.
Die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Andy Mothibi, sê intussen hulle gee voorrang aan verkiesing-verwante sake om vervolging te bespoedig en die integriteit van die verkiesing te beskerm. Meer as 25 verkiesing-verwante sake is op die hofrol terwyl sowat 20 ander nog ondersoek word. In Gauteng is 14 mense in hegtenis geneem. Mothibi sê die NVG werk saam met die polisie om sake soos aanranding en intimidasie van OVK-personeel vinnig af te handel:
# Die Sitruskwekersvereniging van Suidelike Afrika sê die verlies van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika is nie net nadelig vir die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf nie, maar ook vir Amerikaanse verbruikers. Die Amerikaanse regering het kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se handel- en belegging-versperrings, korrupsie en kwessies wat met nasionale veiligheid en buitelandse beleid verband hou. Die vereniging se uitvoerende hoof, Boitshoko Ntshabele, sê hulle hoop ʼn toekomstige bilaterale ooreenkoms tussen die twee lande sal erkenning gee aan seisoenale vars produkte se unieke plek in wêreldhandel.
# Die Vryheidsfront Plus het ’n klag by die Groen Skerpioene ingedien oor rioolbesoedeling in Zeerust en omliggende gebiede in Noordwes. Die party blameer die Romotshere Moiloa plaaslike munisipaliteit daarvoor dat riool in strate en die Kareespruit invloei as gevolg van beskadigde rioolinfrastruktuur. Karlien Venter van die VF Plus sê die besoedeling hou gesondheidsrisiko’s in vir inwoners, bedreig grondwater en kan die water in die Klein-Maricopoortdam, wat deur plaaslike boere vir besproeiing gebruik word, besoedel.
# Amerika se visepresident JD Vance glo die oorlog teen Iran het veroorsaak dat die Republikeine in die middeltermynverkiesing beheer oor die Kongres verloor. Die Demokrate het ʼn meerderheid in die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers behaal en die uitslag word beskou as ʼn regstreekse referendum oor president Donald Trump se administrasie. Vance het in ʼn lang verklaring op X erken kiesers het ontevredenheid uitgespreek met die administrasie se immigrasie-agenda, en sê hy is bereid om beleidshervormings te oorweeg. Hy beklemtoon dat eerlike gesprekke in die Republikeinse Party nodig is.
# Tennis: Die Vrouetennisvereniging sê die beskerming van spelers teen aanlyn mishandeling en dreigemente is ‘n kernprioriteit, na verskeie spelers die week doodsdreigemente ontvang het na hulle verloor het. Die Britse speler Jodie Burrage is geteiken nadat sy by die Chennai Ope in Indië verloor het, terwyl die voormalige Australiese Ope-kampioen Sofia Kenin en Brittanje se Katie Boulter ook beledigende boodskappe ontvang het. Die WTA bied Burrage bykomende ondersteuning en ondersoek die dreigemente. Meer as 12-duisend beledigende plasings en boodskappe op sosiale media is verlede jaar aangemeld, met baie wat verband hou met woedende dobbelaars.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-558-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 96-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….