Nuus 17:00
BULLETIN 4 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom die sterk kiesersopkoms
# President Ramaphosa vra vir strenger optrede teen geslagsgeweld
# En, die DA vra taxiverenigings om die vredesonderneming in die Wes-Kaap na te kom
# Die regering verwelkom die landwye sterk kiesersopkoms en sê vandag se munisipale verkiesing is ‘n toonbeeld van demokrasie. Kiesers word versoek om geduldig te wees terwyl hulle in rye wag en verkiesingsbeamptes se riglyne na te kom. Die regering se adjunk-woordvoerder, William Baloyi, herinner die publiek ook daaraan dat dit verbode is om foto’s te neem van ingevulde stembriewe, want elke kieser se keuse moet privaat bly:
# President Cyril Ramaphosa moedig mans aan om vroue nie te mishandel nie en vra strenger optrede deur die polisie en die strafregstelsel om geslagsgeweld te bekamp. Ramaphosa het in Johannesburg gepraat na hy in Hydepark gestem het. Hy sê die regering is besig om steun aan slagoffers uit te brei en verhoog die aantal polisiebeamptes om sigbare wetstoepassing te verbeter. Ramaphosa sê bykomende fondse is beskikbaar gestel om geslagsgeweld aan te pak met verdere befondsing wat ook in Februarie se begroting verwag word:
# Die DA doen ‘n beroep op taxiverenigings in Kaapstad om in die lig van vandag se plaaslike regeringsverkiesing, hul belofte vir vrede na te kom en die geweld onmiddellik te beëindig. Dit volg nadat die Hooggeregshof in die Wes-Kaap ‘n tussentydse bevel het teen die Cape Amalgamated Taxi Association en die Cape Organisation for the Democratic Taxi Association toegestaan het. Nomafrench Mbombo van die party sê dit moet moontlik wees vir inwoners om veilig en sonder vrees of intimidasie by stemlokale uit te kom:
# Meer as 200 passassiers wat permanent op ‘n plesierboot gewoon het, moes in Kambodja afklim toe die operateur die reis opgeskort het. Die Villa Vie Odyssey het vandag vroeg uit Sihanoukville gevaar met 50 bemanningslede aan boord. Die eienaar, van Florida, skryf dit toe aan die stygende brandstofkoste weens die oorlog in Iran en sê hy kan nie meer die vaartuig bedryf nie. Sommige inwoners het in Kambodja agtergebly, terwyl ander elders in die streek gereis het. Die skip was langer as 755 dae op ‘n deurlopende wêreldreis.
# Padwedlope: New York se lykskouer ondersoek die dood van ‘n 24-jarige vrou tydens Sondag se New Yorkse marathon. Rachel Apa was een van meer as 61-duisend atlete wat aan die wedloop deelgeneem het. Sy het in Central Park, naby die eindstreep, ineengestort en is na ‘n hospitaal geneem, waar sy oorlede is. Haar pa, Steve Apa, het aan New York Times gesê Rachel het weens ‘n seldsame toestand gesterf, waartydens spiere afgebreek word en die bloedstroom vergiftig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-300-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-41-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….