Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na Olimpiese Jeugspele: Span Suid-Afrika het nog twee medaljes ingeoes op die Spele in Dakar, Senegal. Die roeier Callum Dreyer het die eerste goue medalje bygedra en die swemmer Chanel Veldsman silwer. Die 16-jarige Dreyer het Diego Molina Martinez van Spanje in die eindronde geklop terwyl die Hongaar Adam Moor met brons weggestap het. Veldsman het silwer verower in die vroue se 100-meter borsslag. Suid-Afrika spog nou met vier medaljes: een goud, twee silwer en een brons.
# Atletiek: Die gesiene afrigter en sportadministrateur Jean Verster sal tot ‘n raadsvergadering die 28ste van dié maand Atletiek Suid-Afrika se waarnemende president wees. Dit volg op James Moloi se afdanking ná ‘n onafhanklike dissiplinêre ondersoek na bewerings van ernstige finansiële wangedrag en die misbruik van A-S-A se kredietkaart. Suid-Afrika se aangewese verteenwoordiger by Wêreldatletiek, Zakhele Dlamini, het die raad opdrag gegee om ‘n waarnemende president aan te stel. Dis deel van voortgesette pogings om bestuursprobleme in die organisasie aan te pak en te voldoen aan Wêreldatletiek se bestuursvoorskrifte.
# Rugby: Die Springbokke se verdedigingsafrigter, Jerry Flannery, hou vol Italië is steeds ‘n gevaarlike teenstander al is verskeie sleutelspelers weens beserings nie beskikbaar vir Saterdag se Nasieskampioenskapskragmeting in Turyn nie. Die Azzurri sal sonder Juan Ignacio Brex, Tommaso Menoncello en Sebastian Negri wees. Flannery voer aan die gashere is steeds ‘n indrukwekkende span wat geanker word deur sterk vastespel en ‘n aanvallende agterlyn:
# Sokker: Volgende jaar se Asiatiese Beker is met meer as 11 maande uitgestel weens dodelike aanvalle in die gasheerland, Saoedi-Arabië. Die toernooi sou oorspronklik op 7 Januarie begin, maar sal nou eers op 23 Desember volgende jaar afskop. Die Asiatiese beheerliggaam, die AFC, sê die besluit is geneem in die lig van die huidige buitengewone omstandighede in die Midde-Ooste, insluitend aansienlike logistieke uitdagings en ontwrigtings in reisverkeer. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, moet nog die nuwe datums goedkeur.
# En motorsport: Die Formule Een-span Haas het bevestig dat Esteban Ocon nie weer hierdie seisoen vir die span sal deelneem nie, maar geen rede verskaf nie. Die Fransman is vervang na Vrydag se oefening voor verlede naweek se Grand Prix in Mexiko-stad, vermoedelik ná ‘n onderonsie met die span-hoof, Ayao Komatsu. Die Ferrari-junior en voorloper op die Formule Twee-punteleer, Rafael Camara – wat vir volgende jaar by Haas geteken het – sal Ocon die naweek in sy tuis-wedren op die Sao Paulo Grand Prix vervang. Sy spanmaat is die Britse renjaer, Ollie Bearman.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….