Nuus 11:00
BULLETIN 4 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Demokrate wen die Amerikaanse Senaat en die Huis van Verteenwoordigers
# Die OVK sê stemmery is aan die gang in Suid-Afrika se munisipale verkiesing
# En motorsport: Esteban Ocon verlaat Haas se Formule Een-span
# Die Demokrate het ‘n meerderheid gekry in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers en die Senaat, en die Republikeine se greep op Washington verbreek. In Texas is James Talarico die eerste Demokraat sedert 1988 wat ʼn setel in die Senaat wen terwyl Adam Hamilton die eerste Demokraat in byna 100 jaar is om ʼn Senaat-setel in Kansas te wen. Die Demokraat Annie Andrews sal die eerste vrou van Suid-Carolina wees wat tot die Senaat verkies word. Die volgende Huis-speaker, Hakeem Jeffries, sê Amerika is terug:
Terug in Suid-Afrika:
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê stemlokale het vanoggend sewe-uur landwyd oopgemaak en sluit vanaand nege-uur. Meer as 29-miljoen Suid-Afrikaners sal na verwagting vandag hul kruisies trek in die munisipale verkiesing. Moepya het sy eerste statusverslag vir die dag in die nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng, gegee, en herhaal dat geen politieke party toegelaat word om ʼn veldtog te voer by stemlokale nie:
Die regering waarsku intussen teen die doelbewuste verspreiding van ongegronde bewerings, vals verkiesingsuitslae, gemanipuleerde video’s en misleidende bewerings om die OVK in ʼn swak lig te stel of onnodige openbare vrees te skep. Die onafhanklike platform, Real 411, wat gebruik word om vals verkiesingsinligting aan te meld, het 34 klagtes geregistreer. Dit sluit in verkeerde inligting, aanhitsing tot geweld, haatspraak en teistering. Die regering se adjunkwoordvoerder, William Baloyi, sê alle Suid-Afrikaners het ʼn verantwoordelikheid om verkeerde en vals inligting aan te meld:
# Die Stad Tshwane werk saam met Magalies Water om waterprobleme te hanteer vir verbruikers wat water deur die Wallmannsthal-voorsieningstelsel kry. Die Wallmannsthal-reservoir, wat aan die Derdepark-, Hoewes- en Baviaanspoort-stelsels voorsien, se watervlakke het die afgelope week gedaal. Dit word toegeskryf aan onvoldoende en onbestendige aanvulling van die Roodeplaat-watersuiweringsaanleg, groot vraag en stelselbeperkings op Tshwane se hoofstelsel. Die metro maan inwoners om water verantwoordelik te gebruik en slegs vir noodsaaklike huishoudelike doeleindes.
# Motorsport: Die Formule Een-span Haas het bevestig dat Esteban Ocon nie weer hierdie seisoen vir die span sal deelneem nie, maar het geen rede verskaf nie. Die Fransman is vervang na Vrydag se oefening tydens verlede naweek se Grand Prix in Mexikostad, vermoedelik ná ʼn onderonsie met die span-hoof, Ayao Komatsu. Die Ferrari-junior en voorloper op die Formule Twee-punteleer, Rafael Camara – wat vir volgende jaar by Haas geteken het – sal Ocon die naweek in sy tuis-wedren in Sao Paulo vervang. Sy spanmaat is die Britse renjaer Ollie Bearman.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-815-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-19-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….