Nuus 08:00
BULLETIN 4 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Altesaam 21 verkiesingsverwante sake, insluitend moord, is sedert Maandag aangemeld
# Wetstoepassingsowerhede sê hulle sal beslis optree teen enige wangedrag of geweld
# En, die Demokrate gaan waarskynlik verskeie setels in die Senaat wen
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê 21 verkiesing-verwante sake is sedert Maandag geregistreer. Dit sluit in moord, diefstal van verkiesingsplakkate en tente, verwydering van plakkate, brandstigting en intimidasie. ‘n Streeksleier van die MK-party in KwaZulu-Natal is Maandagaand in sy huis doodgeskiet. Vyf van die saakdossiere is na die hof verwys. NATJOINTS se voorsitter, Tebello Mosikili, sê uit die 21 geregistreerde dossiere is ses verdagtes aangekeer:
Mosikili sê ook strukture is gereed om te reageer op enige gebeurlikheid wat die integriteit van die verkiesingsproses of die veiligheid en sekuriteit van kiesers kan bedreig. Suid-Afrikaners stem vandag in die plaaslikeregeringsverkiesing. Mosikili, sê polisie en ander wetstoepassingsagentskappe sal beslissend optree om wet en orde te handhaaf en sê hulle sal geen verskoning aanvaar wanneer misdaad gepleeg word nie:
# Die Stad Johannesburg en die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie het ʼn bylae tot hul salarisgelykheidsooreenkoms van 10,3-miljard-rand onderteken. Dit hou verband met ʼn skikking wat sowat 35-duisend munisipale werkers raak. Burgemeester Dada Morero sê die beoogde betaling, wat wissel tussen 1,2-miljard-rand en vyf-miljard-rand, bly onderworpe aan die toepaslike bepalings en voorwaardes van die skikkingsooreenkoms van November 2025. Hy sê die bylae sluit die instelling van ‘n gemeenskaplike sleutel-salarisskaal in en plaas die betrokke werknemers op die toepaslike toetreevlak:
# Die Demokraat Jon Ossoff gaan volgens peilings die Senaat-wedloop in Georgia wen en sy Republikeinse teenstander, Mike Collins, uitstof om ʼn tweede termyn te verseker. Dit volg terwyl die uitslae van die middeltermyn-verkiesing bekend raak. Volgens aanduidings gaan Demokratiese senator Chris Coons ook weer sy setel in Delaware wen. Associated Press voorspel die Demokrate gaan boonop die senaat-setels in Illinois, Massachusetts, Rhode Island en New Jersey inpalm. Om ʼn meerderheid in die Huis te behaal, moet ʼn party 218 setels wen, en 51 setels in die Senaat.
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, het sy hoop lewend gehou om vir die ATP-jaareindtoernooi te kwalifiseer na ‘n oorwiniing die eerste ronde van die Parys Ope. Die Serwiër het die ster van Monaco, Valentin Vacerot, met 6-7, 7-5, 6-1 geklop. Djokovic moet minstens die halfeindronde in Parys haal om vir die ATP-jaareindtoernooi in Turyn te kwalifiseer. Casper Ruud van Noorweë het die negende gekeurde Spanjaard, Rafael Jodar, uitgeskakel. Die derde gekeurde Amerikaner, Ben Shelton, het die Brit, Cameron Norrie, afgeransel terwyl die Italianer, Matteo Berrettini, met Brandon Nakashima afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-220-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-939-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….