Nuus 07:00
BULLETIN 4 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal in Johannesburg stem, en Geordin Hill-Lewis in Kaapstad
# Die Jeep Wrangler- en Gladiator-modelle word herroep weens ‘n probleem met die stuurstelsel
# En Callum Dreyer wen Span SA se eerste goud by die Olimpiese Jeugspele
# Dit is vandag plaaslikeregeringstemdag en president Cyril Ramaphosa en sy vrou, dokter Tshepo Motsepe, sal hul kruisies by Hyde Park High School in Johannesburg trek. ‘n Rekord van 546 partye en byna 137-duisend kandidate neem aan die verkiesing deel. Die DA-leier gaan by Edgemead Primary School in Kaapstad stem, en die MK-party se president, Jacob Zuma, by Ntolwane Primary School in KwaZulu-Natal. EFF-leier Julius Malema stem in Limpopo, en BOSA-leier Mmusi Maimane in Soweto. Stemlokale open seweuur vanoggend en sluit vanaand negeuur.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het die departement se verbintenis herbevestig om nou saam met die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging te werk ten einde gesondheidsorgdienste te verbeter. Dit volg op die verkiesing van Edward Ngwenya as die vereniging se nuwe voorsitter, terwyl die vorige voorsitter, Mvuyisi Mzukwa, as president aangestel is. Foster Mohale van die Departement sê gereelde skakeling met SAMA is belangrik om uitdagings aan te spreek waarmee mediese praktisyns en pasiënte te kampe het, en om ’n gesondheidstelsel te bou wat beter op mense se behoeftes reageer en meer billik is:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het een-duisend-896 Jeep Wrangler- en Jeep Gladiator-voertuie herroep weens ‘n moontlike brandgevaar. Die betrokke voertuie, wat tussen 2021 en verlede jaar te koop aangebied is, het moontlik ‘n elektriese fout by die verbinding van die kragstuurpomp. Dit kan oorverhit en moontlik tot ‘n brand lei. Phetho Ntaba van die kommissie het ‘n beroep op Jeep-eienaars gedoen om hul voertuigidentifikasienommers op Jeep se webwerf na te gaan.
# Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya sê volgens die voorlopige verslag is daar ernstige tekortkominge in die bestuurder van die Bronkhorstspruit-watersuiweringsaanleg se uitvoering van sy pligte. Verlede maand is meer as 800 gevalle van maagdermsiekte aangemeld nadat die metro versuim het om die aanleg se water met chloor te behandel. Moya sê aanspreeklikheid vir die waterkrisis in Bronkhorstspruit moet leiers in alle afdelings van die waardeketting insluit. Sy beklemtoon egter dat die aanleg se herstel in ʼn gevorderde stadium is:
# President Donald Trump sê Amerika gaan teen die einde van die jaar hulp van ongeveer 66,88-miljard-rand per jaar aan Israel staak. Amerika verskaf volgens ʼn memorandum van verstandhouding militêre hulp aan Israel. Die tienjaar-ooreenkoms het in 2018 begin en verstryk in 2028. Volgens ʼn meningspeiling deur die Quinnipiac University in September, reken byna 48-persent kiesers Amerika ondersteun Israel te veel. Dit is 16-persent meer as in 2017. In ʼn telefoniese onderhoud met Fox News, het Trump gesê Israel het nie meer Amerikaanse befondsing nodig nie:
# Olimpiese Jeugspele: Span Suid-Afrika het nog twee medaljes ingeoes by die Olimpiese Jeugspele in Dakar, Senegal. Die roeier, Callum Dreyer, het die eerste goue medalje bygedra en Chanel Veldsman silwer. Die 16-jarige Dreyer het Diego Molina Martinez van Spanje in die eindronde geklop terwyl die Hongaar, Adam Moor, met brons weggestap het. Die swemmer, Veldsman, het silwer in die vroue se 100-meter borsslag behaal. Suid-Afrika spog nou met vier medaljes: een goud, twee silwer en een brons.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-870-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-974-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 107-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….