Nuus 06:00
BULLETIN 4 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitvoerende hoof van die OVK is bekommerd oor pogings om die verkiesingsproses te ondermyn
# Die MK-party vra vir ‘n dringende ondersoek na die moord op sy streeksorganiseerder in KwaZulu-Natal
# En rugby: Rassie sien Paul de Villiers as die Bokke se volgende veelsydige speler
# Die uitvoerende hoof van die Verkiesingskommissie, Sy Mamabolo, sê toenemende pogings om die integriteit van die plaaslikeregeringsverkiesing te ondermyn, is ‘n bron van kommer. Mamabolo het gewaarsku teen die verspreiding van waninligting en inhoud wat deur kunsmatige intelligensie op sosiale media gegenereer is, en doen ‘n beroep op kiesers om inligting te verifieer voordat hulle dit deel. Hy het ook politieke partye en kandidate versoek om opruiende uitlatings te vermy en die verkiesingsgedragskode te respekteer:
Die polisie het kiesers intussen verseker veiligheidsmaatreëls is ingestel terwyl Suid-Afrikaners vandag na die stembus gaan. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het ná sy besoek aan die OVK se uitslagsentrum in Midrand, gesê die polisie werk saam met die OVK om ‘n veilige en vreedsame verkiesing te verseker. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, waarsku wetteloosheid en enige gedrag wat die verkiesingsproses bedreig, sal nie geduld word nie:
# Die EFF sê Suid-Afrika sal goed vaar sonder die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die VSA sal die land volgende jaar om verskeie redes van die belastingvrye handelsooreenkoms uitsluit, insluitend weens hindernisse wat Amerikaanse handels- en beleggingspraktyke ondermyn. Volgens die EFF was AGOA ‘n voorwaardelike handelsooreenkoms waardeur Amerika sy eie geopolitieke en ekonomiese belange wou bevorder, terwyl dit druk op Afrika-lande geplaas het om hul politieke en buitelandse beleidsbesluite in lyn te bring met dié van die VSA. Die party sê Suid-Afrika moet wêreldwye handelvennootskappe volgens sy eie voorwaardes nastreef.
# Die MK-party het die Taakspan vir Politieke Moorde gevra om onmiddellik ondersoek in te stel na die moord op sy streekorganiseerder in Ugu, aan die Suidkus van KwaZulu-Natal, Lastborn Shazi. Daar word vermoed dat hy Maandagaand by sy huis in uMzumbe deur gewapende sluipmoordenaars oorval en doodgeskiet is. Shazi was op die party se lys vir proporsionele verteenwoordiging vir die plaaslikeregeringsverkiesing. Die KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, het die publiek gevra om nie oor die motief vir die moord te spekuleer nie:
# Twee Ryanair-passasiersvliegtuie is in Rome deursoek na bomdreigemente aangemeld is op vlugte wat van Dublin en Lissabon onderweg was. Italiaanse vegvliegtuie het die vliegtuie na Fiumicino-lughawe begelei, waar polisie en bomverwyderingspanne die vliegtuie, passasiers en bagasie geïnspekteer het. Geen plofstof is gevind nie en die waarskuwings is verwyder. Die voorvalle was deel van ‘n reeks bomdreigemente wat Dinsdag ten minste ses vlugte regoor Europa geraak het, insluitend vliegtuie wat in Pole, Spanje en Bulgarye geland het. Owerhede ondersoek of die dreigemente met mekaar verband hou.
# Rugby: Die afrigter, Rassie Erasmus glo Paul de Villiers kan die Springbokke se volgende veelsydige speler word. Die 23-jarige flank het tot dusver beïndruk in sy drie toetse vir Suid-Afrika en Erasmus meen hy sal in ‘n noodgeval met gemak by die agterlyn kan inskakel. Hy sê De Villiers het in die afwesigheid van André Esterhuizen in verskeie posisies geoefen, insluitend skrumskakel. Esterhuizen het al as flank en senter vir Suid-Afrika gespeel. De Villiers begin Saterdag op die bank in die Nasieskampioenskap wedstryd teen Italië in Turyn.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-657-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-930-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….