Nuus 18:00
BULLETIN 3 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vyfde beskuldigde in die aanval op ‘n boer van Noordwes gaan staatsgetuie word
# Die Belangegroep vir Kaapse Onafhanklikheid waarsku die AGOA-uitsluiting sal die Wes-Kaapse ekonomie skaad
# En, Volodymyr Zelensky is in Berlyn met die oog op vredesgesprekke
# Een van die vyf beskuldigdes in die wrede aanval op die Noordwes-boer Donovan Marx sal na verwagting ‘n staatsgetuie word. Die ander vier beskuldigdes staan tereg op aanklagte van poging tot moord, roof en die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Hulle verskyn op 13 November weer in die Ventersdorp-landdroshof vir borgverrigtinge. Die provinsiale polisiekommissaris, Arthur Peter Adams, het aan die media gesê ondersoekers glo die man was nie aktief by die aanval betrokke nie:
# Die belangegroep vir Wes-Kaapse onafhanklikheid waarsku Suid-Afrika se AGOA-uitsluiting kan ernstige gevolge vir die Wes-Kaapse ekonomie inhou. Phil Craig van die groep sê die provinsie het in 2025 produkte ter waarde van 14,5-miljard-rand na die VSA uitgevoer. Die sitrus-, wyn-, vrugtesap- en seiljagvervaardigingsbedryf staar nou onsekerheid in die gesig, en Wesgro sê Amerikaanse uitvoere het 28-duisend werksgeleenthede ondersteun. Hy sê Pretoria se gesentraliseerde buitelandse beleid prioritiseer bevrydingsalliansies bo ekonomiese belange en doen ‘n beroep op groter provinsiale beheer:
# Die voormalige Adjunk- Nasionale Polisiekommissaris Shadrack Sibiya het formeel teen die beslissing van die Randburg-landdroshof geappelleer om hom borgtog te weier. Landdros Hleziphi Mkhasibe het op 20 Oktober borgtog geweier weens kommer oor moontlike getuie-inmenging en getuienismanipulasie. Sibiya staan tereg op ses aanklagte, insluitend verkragting, seksuele voorbereiding, mensehandel vir seksuele uitbuiting en nalatige vuurwapenhantering. Hy bly in aanhouding by die Kgosi Mampuru-gevangenis. Sy strafregtelike verhoor sal na verwagting op 24 November begin.
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, is vandag in Berlyn vir samesprekings met die Duitse kanselier, Friedrich Merz, wat sy ondersteuning duidelik gemaak het. Dit volg ‘n week voor vredesonderhandelings tussen Rusland en Oekraïne hervat, wat Amerika bemiddel het. Europese leiers het Zelensky gesteun te midde van sy meningsverskil met die Amerikaanse president oor sy besluit om Russiese diesel aan te koop en oproepe dat Kiëf aanvalle op Russiese olieraffinaderye moet staak. Duitsland het Oekraïne se grootste ondersteuner geword sedert Trump verlede jaar weer president geword het en Amerikaanse finansiële steun onttrek het.
# Sokker: West Ham United het sy afrigter Nuno Espírito Santo afgedank ná ‘n swak begin van hul Kampioene-veldtog. Die klub het sy vertrek na Saterdag se tuisnederlaag van 3-1 teen West Bromwich Albion bevestig. Dit is hulle tweede agtereenvolgende nederlaag op hulle tuisveld. West Ham is verlede seisoen uit die Premierliga afgradeer en is nou ná 13 wedstryde agtste op die punteleer. Die hulpafrigter Rui Pedro Silva en doelwagter-afrigter Rui Barbosa het ook die klub verlaat. Die span se voormalige kaptein Mark Noble sal toesig hou oor die voorbereidings vir Woensdag se wedstryd teen Cardiff City terwyl die klub na ‘n plaasvervanger soek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-314-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-962-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….