Nuus 14:00
BULLETIN 3 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Party-kandidaat is aangekeer vir ‘n poging om verkiesingsmateriaal te steel
# AfriForum vra Ramaphosa om die plaasaanval op ‘n boer van Noordwes te veroordeel
# En die eerste masels-sterfgeval in 30 jaar is in die staat New York aangemeld
# Die Verkiesingskommissie het bevestig ‘n politieke party se kandidaat is in Ngcobo in die Oos-Kaap aangekeer vir die beweerde poging om verkiesingsmateriaal te steel. Die persoon het hom na bewering as ‘n verkiesingsamptenaar voorgedoen om die materiaal by ‘n polisiestasie af te haal. Die eintlike amptenaar het ontken dis gemagtig en die polisie het die verdagte aangekeer, die materiaal afgeneem en ‘n strafsaak geopen. Die OVK het ook ‘n verkiesingsbeampte afgedank wat na bewering party-lede in ‘n OVK-voertuig vervoer en T-hemde uitgedeel het.
Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, Jaco Londt, herinner intussen die publiek openbare skole sal môre gesluit wees vir die verkiesing. Hy sê matrieks skryf vandag, môre en Donderdag nie eksamen nie om leerders se veiligheid te verseker en skole beskikbaar te stel vir gebruik as stempunte. Londt sê die departement sal enige verdere verwikkelings bekend maak. Hy voeg by die matriekeksamen-rooster hervat ná die verkiesing soos beplan:
# AfriForum vra president Cyril Ramaphosa om die plaasaanval te veroordeel op die boer van Noordwes, Donovan Marx, wat verlede week ernstig beseer is. Vyf verdagtes tussen 26- en 56-jaar oud is in verband met die aanval in hegtenis geneem en verskyn vandag die eerste keer in die hof. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê Ramaphosa se stilswye strook met sy versuim om “Kill the Boer” te veroordeel en plaasmoorde tot voorkeur-misdaad te verklaar:
Nuus uit die buiteland:
# Die eerste masels-sterfte in meer as dertig jaar is in die Amerikaanse staat New York aangemeld. ‘n Kind is in die distrik Lewis in die landelike noorde dood te midde van ‘n uitbreking. Gesondheidsamptenare het nie die kind se ouderdom of inenting-status bekendgemaak nie. New York het vanjaar reeds 178 masels-gevalle opgeteken, en Amerika meer as vier-duisend-800 gevalle – die hoogste syfer sedert 1991. Gesondheidsowerhede sê inenting bly die beste beskerming teen aansteeklike siektes.
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het ‘n groep van 36 spelers aangewys vir die Nasieskampioenskapstoetse, terwyl Alex Mitchell weens ‘n besering nie beskikbaar is nie. Die skrumskakels Ben Spencer en Harry Randall is in sy afwesigheid ingesluit, terwyl die haker Theo Dan die beseerde Kepu Tuipulotu vervang. Die senter Seb Atkinson en die vleuel Immanuel Feyi-Waboso is weer ingesluit ná beserings. Engeland speel Sondag teen Australië, gevolg deur wedstryde teen Japan en Nieu-Seeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-890-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-903-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….