Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die slot Salmaan Moerat verdedig teen kritiek op sosiale media en sê hy lewer ‘n waardevolle bydrae. Moerat, wat reeds elf toetse gespeel het, is Saterdag in die opdrafspan in die Nasies-kampioenskaps-kragmeting met Italië in Turyn. Die 28-jarige, wat van die Stormers na La Rochelle in Frankryk verhuis het, het nog nie vanjaar vir die Bokke gespeel nie. Erasmus sê sy waarde lê in harde werk eerder as pronkerige spel:
Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het intussen ‘n groep van 36 spelers aangewys vir die kompetisie, terwyl Alex Mitchell weens ‘n besering nie beskikbaar is nie. Die skrumskakels Ben Spencer en Harry Randall is in sy afwesigheid ingesluit, terwyl die haker Theo Dan die beseerde Kepu Tuipulotu vervang. Die senter Seb Atkinson en die vleuel Immanuel Feyi-Waboso is weer ingesluit ná beserings. Engeland speel Sondag teen Australië, gevolg deur wedstryde teen Japan en Nieu-Seeland.
# Krieket: Kyle Verreynne, David Bedingham en Senuran Muthusamy sal nie vir Suid-Afrika speel in die reeks van twee toetse teen Bangladesj op die Hoëveld nie. Anrich Nortjé, Zubayr Hamza en Tony de Zorzi keer almal terug ná beserings. Afrigter Shukri Conrad sê hulle gaan ná die reekssege oor Australië nou daarop fokus om daardie momentum na die reeks teen Bangladesj verder te neem. Die eerste toets begin die 15de op die Wanderers in Johannesburg, en die tweede die 23ste in Centurion.
Nog krieket: Australië se vrouespan sal Suid-Afrika volgende jaar besoek vir drie T20-wedstryde, drie eendagwedstryde en ‘n enkele toets. Die datums is verskuif nadat bevestig is die eerste Vrouekampioenetrofee sal vanaf 14 tot 28 Februarie in Indië plaasvind. Die T20-wedstryde word in Maart in Kimberley, Benoni en KuGompo City gespeel, gevolg deur eendagwedstryde in April in Gqeberha, die Paarl en Durban. Die toets begin die 15de in KuGompo, wanneer Buffalopark die eerste keer ‘n toets vir vroue sal aanbied.
# En motorsport: George Russell het erken sy uitdagings tydens die Formule 1-seisoen was ongelooflik moeilik om te hanteer. Die Mercedes-renjaer het ’n openhartige verklaring op sosiale media geplaas nadat sy spanmaat, Kimi Antonelli, tydens Sondag se Grand Prix in Mexikostad sy eerste wêreldkampioenskapstitel ingepalm behaal het. Russell, wat vanjaar drie wedrenne gewen het teenoor Antonelli se nege, sê hoewel dit ’n uitdaging was om homself week na week weer reg te ruk, het hy sy absolute beste vir die span gegee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….