Nuus 11:00
BULLETIN 3 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassadeur sê Suid-Afrika se verwydering uit AGOA was voorspelbaar en voorkombaar
# Johannesburg doen stappe om afhanklikheid van privaat watertenkwa-operateurs te verminder
# En rugby: Die Springbok-afrigter verdedig Moerat en sê hy voeg waarde by die span
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê die land se verwydering uit die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika was ‘n voorspelbare en voorkombare gevolg van regeringsbeleid. Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, sê die Suid-Afrikaanse regering het praktyke toegepas wat nie in ooreenstemming is met AGOA se geskiktheidskriteria nie. Bozell bly hoop die twee lande kan ‘n manier vind om breër bilaterale kwessies uit te klaar, maar sê die regering moet die erns van die situasie besef. Suid-Afrika is verantwoordelik vir 54-persent van alle AGOA-verwante uitvoere na Amerika.
# Die vakverbond SAFTU verwelkom die Gautengse Hooggeregshof se beslissing dat Bosasa se voormalige hoofbedryfsbeampte, Angelo Agrizzi, meer as 1,66-miljard-rand aan die staat moet terugbetaal. Dit gaan oor korrupsie wat met die maatskappy se onwettige bedrywighede verbind word. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê Bosasa se bedrywighede toon hoe privaat sakebelange hul nabyheid aan staatsmag kan uitbuit om winsgewende regeringskontrakte te kry terwyl staatshulpbronne wat die samelewing moes dien, vir privaat verryking aangewend is:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die stad bou geleidelik sy eie vloot watertenkwaens op om sy afhanklikheid van privaat kontrakteurs te verminder. Hy het die media ingelig oor die huidige watervoorsieningsituasie en pogings om dienste te herstel. Morero sê 20 tenkwaens wat verlede jaar aangekoop is, is reeds in gebruik, terwyl nog 16 in diens geneem sal word. Hy sê erken die swaarkry van inwoners wat vir dae of weke sonder water is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag het aanvalle op die Iranse eiland Qeshm uitgevoer, ure voordat Amerikaners na die stembus gaan vir die middeltermynverkiesing. Dit is volgens berigte weens ‘n aanval deur Teheran se Islamitiese Revolusionêre Wag op ‘n Amerikaanse vliegtuig. President Donald Trump het gister aangedui diplomasie met Iran bly ‘n moontlikheid en ‘n ooreenkoms kan moontlik bereik word. Die spanning tussen AMerika en Iran was ‘n belangrike gesprekspunt in die aanloop tot die verkiesing. Die konflik raak die Amerikaanse ekonomie en jaag wêreldwye brandstofpryse op.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die slot Salmaan Moerat verdedig teen kritiek op sosiale media en sê hy lewer ‘n waardevolle bydrae. Moerat, wat reeds elf toetse gespeel het, is Saterdag in die opdrafspan in die Nasies-kampioenskaps-kragmeting met Italië in Turyn. Die 28-jarige, wat van die Stormers na La Rochelle in Frankryk verhuis het, het nog nie vanjaar vir die Bokke gespeel nie. Erasmus sê sy waarde lê in harde werk eerder as pronkerige spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-434-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-911-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….